Die VF Plus beskou die Johannesburgse metro se selektiewe benadering tot infrastruktuur-opgraderings voor die G20-beraad as ʼn klap in die gesig van getroue en hardwerkende belastingbetalers.
Terwyl wêreldleiers ’n blink, tydelike beeld van Johannesburg te sien gaan kry, is die werklikheid vir inwoners heeltemal anders.
Dwarsdeur die metro is paaie vol slaggate, verkeersligte werk nie en water- en rioolinfrastruktuur bly gebrekkig. Tog is die metro tevrede om miljoene te bestee aan oppervlakkige projekte wat slegs bedoel is om buitelandse besoekers vir ’n paar dae te beïndruk.
Die G20-beraad mag dalk vir ’n oomblik wêreldwye aandag bring, maar wat inwoners nodig het, is blywende oplossings, nie vensterverfraaiing nie.
Belastingbetalers verdien dieselfde vlak van diens en beleggings in hul gemeenskappe as wat die afgevaardigdes op die beraadroetes gaan ervaar.
Die VF Plus dring daarop aan dat die metro ’n regverdige en volhoubare benadering tot dienslewering moet volg. Dieselfde dringendheid en doeltreffendheid wat vir die G20-roetes toegepas word, moet ook in belastingbetalers se woonbuurte toegepas word.
Indien die metro slaggate kan herstel, straatligte kan vervang en gebiede oornag kan skoonmaak vir ’n wêreldbyeenkoms, is daar geen verskoning om dit nie ook vir inwoners te doen nie.
Die VF Plus sal aanhou om die administrasie verantwoordbaar te hou vir die vermorsing van belastinggeld en minagting van mense wat die rekening betaal.
Die VF Plus doen ’n beroep op die metro om sy fokus te verskuif na die langtermynherstel van Johannesburg se vervalle infrastruktuur en om te verseker belastingbetalers en nie net besoekende hooggeplaastes nie, kan voordeel trek uit ’n veilige, funksionele en waardige stedelike omgewing.


