Die VF Plus verdoem die rassisme teen witmense en die intimidasie van joernaliste, veral die voortsetting daarvan direk na die uitspraak waarin die hof ‘n interdik teen Black First Land First (BLF) toegestaan het wat sy lede verbied om joernaliste te intimideer, sê adv. Anton Alberts voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê talle joernaliste het met die saak genoem dat hulle nie genoegsame beskerming van die polisie kry nie. Selfs direk na die hofverrigtinge het joernaliste gekla dat hulle op daardie oomblik nie veilig voel nie en wonder waar die polisie is aangesien die BLF om hulle gemaal het en rassistiese krete geskree het.
Veral die leier van die BLF, Andile Mngxitama, het vir die hoof van SANEF, Mahlatse Gallens, geskree hy sal haar beskerm teen witmense, terwyl haar organisasie juis die aansoeker tot die interdik was.
“Dit is duidelik dat die BLF voortgaan met sy narratief dat witmense die rede vir al die probleme in die land is, ‘n narratief geskep deur Duduzana Zuma, president Zuma se seun, en sy beeldpoets-firma, Bell Pottinger.
“Selfs die ANC het nou die term op hulle beleidskonferensie verwerp, maar daar is geen twyfel nie dat rassistiese en korrupte elemente in die samelewing sal voortgaan om die narratief te verkondig juis om die fokus van hulself weg te lei.
“Die gevaar is dat al hoe meer mense in hierdie narratief, wat al oor en oor op die feite as vals bewys is, begin inkoop en aan die hand daarvan optree. Daarom gaan die VF Plus ook stappe neem teen die skeppers van die valse slagspreuk,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403