Die VF Plus aanvaar nie Bell Pottinger (BP) se verskoning oor sy optrede in Suid-Afrika nie en is van mening dat die organisasie dit bloot doen om verlore aansien te herwin en nie omdat daar werklik berou bestaan oor die rasse-polarisasie wat aangerig is nie, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê BP se optrede, verskoning en selfondersoek is oppervlakkig en van dieselfde aard as die selfondersoek wat die Gupta-gekoppelde Trillian Capital Partners geloods het wat bloot gelei het tot 'n onvolledige verslag weens die gebrek aan samewerking van talle mense binne die maatskappy.
Hy sê dit is deel van 'n program van verontskuldiging wat niks met werklike inkeer en berou te doen het nie, maar bloot 'n reaksie omdat hulle uitgevang is.
“Die VF Plus gaan daarom strafregtelike klagte van terrorisme teen Bell Pottinger indien in terme van die Wet op die Beskerming van die Grondwetlike Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite, Wet 33 van 2004.
“Daar gaan gevra word dat Bell Pottinger se opdraggewende kliënte geïdentifiseer word en dat dieselfde klagtes ook teen hulle ondersoek word. Uit die GuptaLeaks e-posse blyk dit dat die Guptas en Duduzane Zuma, die president se seun, hierby betrek word.
“Die VF Plus het aan die hand van ‘n regsondersoek vasgestel dat enige optrede buite die grense van Suid-Afrika wat 'n effek binne die land het, ingesluit is in die definisie van terrorisme.
“Die VF Plus sal die Britse minister van buitelandse sake, Boris Johnson, bewus maak van die klag en BP se optrede en sal hom versoek om ‘n ondersoek na BP in Brittanje te doen om vas te stel in watter mate BP die internasionale verhoudinge tussen Suid-Afrika en Brittanje vertroebel het deur in te meng in Suid-Afrika se huishoudelike sake in stryd met die internasionale reg.
“Daar moet ook vasgestel word of BP enige wetsoortreding binne Brittanje begaan het. Die VF Plus sal gebruik maak van sy bestaande verhouding met die Britse Konserwatiewe Party om die versoek aan Johnson te oorhandig.
“Gegewe die erg gepolariseerde omgewing in die land en die lostorring van sosiale kohesie het die VF Plus besluit om op te tree teen die skuldiges wat die verdelende en valse narratief van 'wit monopolie-kapitaal’ in die Suid-Afrikaanse samelewing geplant het.
“Hierdie narratief se oogmerk was om enersyds verdeling te skep tot politieke voordeel van individue en 'n sekere faksie in die ANC om in beheer te bly van die magshefbome, veral vir toegang tot die staatsbeursie, en andersyds om die aandag af te lei van die staatstroping wat op 'n ongekende basis plaasvind
“Die stroping is so hewig dat Suid-Afrika se totale ekonomie skade ly weens verminderde belasting vir ontwikkeling, wanbestuur en die gevolglike kredietafgraderings.
“Dit is tyd dat die skuldiges wat wit en swart in Suid-Afrika teen mekaar opsteek en sodoende ware gesprekke oor die bou van goeie verhoudinge ondermyn, aan die kaak gestel word,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403