Die voorsitters van twee VF Plus-takke, Peter Abrahams en Stephan Pienaar, in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Welkom, Virginia, Odendaalsrus, Riebeeckstad) het ‘n strafregtelike klag teen die burgemeester, Nkosinjani Speelman, aanhangig gemaak vir die versuim om sy plig as uitvoerende burgemeester na te kom en die munisipaliteit se voldoening aan die Afvalbestuurswet te verseker.
Die uitvoerende burgemeester het ingevolge die Munisipale Strukturewet die verpligting om toe te sien dat dienslewering volhoubaar geskied. Die VF Plus het voorheen ‘n skrywe aan Speelman gerig en geëis dat hy in sy hoedanigheid as burgemeester verantwoordelikheid neem vir die voortdurende blatante storting van riool in stormwaterpype en daadwerklike aksie daarteen neem.
Speelman het egter nie hierop gereageer nie en intussen word rioolafval steeds deur munisipale werkers in stormwaterpype gepomp.
Dit is die VF Plus se standpunt dat nie slegs die amptenare wat betrek word by die oortreding van wetgewing, wanpraktyke en besoedeling van natuurlike hulpbronne gestraf moet word nie, maar ook die politici onder wie se toesig dit plaasvind.
Die VF Plus eis dat amptenare en politici wat wetgewing oortree, faal in hul verpligting om dienslewering te laat geskied en die omgewing te beskerm, strafregtelik aangekla en dieselfde hanteer word as diegene met hul beweerde betrokkenheid by die asbesdak-ouditprojek.
Politici en amptenary moet nie slegs verantwoordelik gehou word vir finansiële oortredings nie, maar ook vir die roekelose bestuur van skaars hulpbronne.
Die VF Plus het ‘n aanlyn-griefskrif geloods teen hierdie swak dienslewering in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit.
Inwoners kan die griefskrif by https://vfplus.nationbuilder.com/petisie_maakmatjhabengreg ondersteun en sodoende eis dat die munisipaliteit sy beskikbare fondse vir infrastruktuur-instandhouding ten volle gebruik.
Die griefskrif sal op ‘n latere datum aan die speaker en burgemeester van die Matjhabeng-raad oorhandig word.