Eskom se besluit om sogenaamde strafkrag in die Noord-Kaapse munisipaliteite Emthanjeni, Tsantsabane, Kamiesberg en Richtersveld in te stel, sal ekonomies vernietigend wees as dit deurgevoer word. Hierdie munisipaliteite, wat dorpe soos De Aar, Britstown, Hanover, Postmasburg, Garies, Kamieskroon, Port Nolloth en Alexanderbaai insluit, se agterstallige rekeninge lei tot hierdie stap.
Die ironie is dat dit weereens betalende kragverbruikers is wat gestraf word omdat munisipaliteite in gebreke bly om hulle verpligtinge na te kom. Op hierdie gronde is soortgelyke optrede in die verlede deur die howe ter syde gestel.
Vanderkloof, in die Renosterberg-munisipaliteit, het vroeër vanjaar en verlede jaar maande lank onder hierdie strafkrag gebuk gegaan. Dit het hierdie vakansiedorp se ekonomie 'n hewige terugslag toegedien. Daardie munisipaliteit is intussen ontbind en kiesers het op 11 November vanjaar die kans om van die korrupte ANC-regering op plaaslike vlak ontslae te raak. Volgende jaar sal alle munisipaliteite dieselfde kans geniet, met die algemene munisipale verkiesings.
Die finale oorsaak vir hierdie soort ekonomiese ramp, is 'n ANC-regering wat onbevoegde of selfs korrupte kaders na munisipaliteite ontplooi. Die redenasie was moontlik dat hulle lojaliteit steeds behou word, maar dat hulle op plaaslike vlak minder skade kan doen. Wetgewing vir Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) word hiervoor misbruik. Die werklikheid toon egter dat die skade wat hierdie kaders kan aanrig, enorm is.
Die VF Plus sien daarna uit om in 2021 in elke Noord-Kaapse munisipaliteit deel van 'n koalisieregering te word wat die ANC se wanpraktyke kan omkeer.
Navrae: 074 166 5540


