Die VF Plus het ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die aanbieders van die Open Chats-podsending wat in ʼn onlangse episode, wat blitsvinnig op TikTok versprei het, stereotipiese en beledigende opmerkings oor die bruin gemeenskap gemaak het.
Een aanbieder het gesuggereer dat “bruin sibbe mekaar glo ‘chow’” (’n ongegronde stereotipe oor intra-gemeenskapsverhoudings), terwyl ’n ander beweer het dat bruin mense “gek” is, gebaseerd op persoonlike afspraak-ervarings. Hierdie opmerkings word as rassisties en vernederend beskou, wat die waardigheid van die bruin gemeenskap aantas.
Sulke uitsprake is nie net diep aanstootlik nie, maar dra ook die potensiaal om rasse-spanning tussen die swart Afrika- en bruin gemeenskappe aan te blaas, wat die brose sosiale samehorigheid in Suid-Afrika bedreig.
Die VF Plus erken dat hierdie opmerkings nie die houding van alle swart Suid-Afrikaners teenoor die bruin gemeenskap weerspieël nie.
Dit is egter onaanvaarbaar dat individue op ’n openbare platform sulke kwetsende stereotipes gebruik om die menslike waardigheid van die bruin gemeenskap te ondermyn en haat te bevorder.
Hierdie inhoud, wat miljoene mense wêreldwyd digitaal bereik, vereis dringende verwydering van alle aanlyn-platforms.
Die VF Plus doen ’n beroep op die MRK om vinnige en beslissende stappe te neem om die verantwoordelikes aanspreeklik te hou en verdere skade aan die bruin gemeenskap se waardigheid te voorkom.
Die party eis ook dat die Open Chats-podsending onmiddellik die betrokke episode verwyder en verdere maatreëls te tref om die skade wat aangerig is, te herstel.
Die VF Plus bly verbind tot die bevordering van gelykheid, respek en eenheid in Suid-Afrika, en sal nie huiwer om op te tree teen enige vorm van rassisme of diskriminasie nie.


