VF Plus veroordeel die gewelddadige betogings in die Oos-Kaap en veral in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) ten sterkste. Die provinsie word die afgelope tyd geteister deur gewelddadige protesaksies wat die ekonomie en die privaatsektor groot finansiële verliese laat ly.
Die toename in protesaksies in die Oos-Kaap en veral in en om die NMBM is ‘n goeie aanduiding van mense se frustrasie en desperaatheid oor die swak dienslewering van munisipaliteite.
Daar kan egter nie toegelaat word dat minibustaxi-bestuurders, wat betogings loods weens hul ontevredenheid met hul werkgewers se weerhouding van hul R350 Covid-19-toelae, die inwoners van die NMBM gevange hou nie.
Die VF Plus dring daarop aan dat daar streng opgetree word teen persone wat hulle skuldig maak aan die vernietiging van staat- en privaateiendom en die veiligheid van inwoners bedreig.
Protesaksies gaan geen verskil maak aan die hopelose dienslewering van die afgelope jare in onder meer die NMBM en ander munisipaliteite in die Oos-Kaap nie.
Die enigste manier om ‘n verandering te bring, is om by die stembus saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en sterk standpunt in te neem teen die algehele verval van munisipaliteite en 'n totale gebrek aan dienslewering.