(Debat in parlement oor Afrikadag)
Afrikadag fokus vandag op kuns, kultuur en erfenis en om ‘n beter wêreld te skep te midde van die Covid-19-pandemie. Die optrede van die ANC-regering, veral tydens die pandemie, maak ‘n bespotting hiervan.
Daardie uitverkore 12% het altesame R128 miljoen ontvang wat sowat 46% van die totale hulppakket beslaan.
Covid-19 se effek op kunstenaars se bestaan was vernietigend. Die ANC gaan bloot gevoelloos voort met die aftakeling van kunstenaars wat nie meer vir hul gesinne kan sorg nie.
Die presidensiële stimulusprogram tesame met ander vorme van befondsing van die regering is wanbestee en deur bedrog en korrupsie gesteel van diegene wie se voortbestaan daarvan afgehang het. So is sowat 46% van die Nasionale Kunsteraad se hulpfonds aan slegs 12% van begunstigdes toegeken omdat hulle op een of ander wyse aan dié aan stuur van hierdie fondse verbind is.
Oneerlikheid het deel van die ANC se DNS geword.
Die probleme is ook veel dieper gewortel as net die Covid-19-hulpfondse. ‘n Mens sou dink die een plek waar dit beter sou gaan is die museum op Robben Eiland, maar ook hier is die ANC-verrotting duidelik sigbaar.
Die direkteur-generaal van sport, kuns en kultuur, mnr. Vusumusi Mkhize, het tydens ‘n besoek aan die museum verlede jaar self gesien hoe die infrastruktuur vergaan terwyl ‘n infrastruktuurtoelaag van meer as R100 miljoen beskikbaar was vir opgradering maar teen Maart 2020 nie gebruik is nie. Wat klaarblyklik nie gesteel kan word nie, word nie gebruik nie weens ‘n gebrek aan behoorlike beplanning en bestuur.
Die jag wat op Afrikanerherkoms en kulturele erfenis en gedenkwaardighede gemaak word, is ‘n verdere bewys dat die regering geen respek vir enige van Suid-Afrika se inheemse bevolkingsgroepe het nie.
Die verwydering van standbeelde, reuse bedrae broodnodige geld wat aan die verandering van straat- en plekname bestee word en die miskenning van die geskiedenis en lot van onder andere die Afrikaner deur sondebokpolitiek, maak van miljoene Suid-Afrikaanse burgers vreemdelinge in hul eie land.
Die ANC-regering kan nie daarop aanspraak maak dat hy ‘n beter wêreld geskep het deur kuns, kultuur en erfenis nie. Elkeen met oë kan dit sien en dit is die toppunt van skynheiligheid om dit te ontken.