Verouderde keramiekpype is die oorsaak van die voortslepende rioolprobleme wat inwoners van Capitalpark in Pretoria radeloos laat.
Riool vloei gereeld in Flower-, Trouw- en Myburgstraat weens dele van die keramiekpypleiding wat verbrokkel.
Die Tshwane-metro se departement van water en sanitasie het reeds verlede jaar ʼn kontrakteur aangestel om die pype te herstel, maar die projek is nog nie voltooi nie.
Die vertraging word veroorsaak weens die hoofpyplyn wat deur private eiendom loop en nie maklik toeganklik is nie. Buitegeboue en plaveisel is ook oor die pyplyn gebou.
Die VF Plus is tans besig met ʼn ondersoek om vas te stel of daar bouplanne vir die geboue by die metro ingedien en goedgekeur is.
Capitalpark beleef tans ʼn toestroming van mense wat op soek is na goedkoop behuising en dit kan aanleiding gee tot die oprig van geboue sonder die nodige goedkeuring.
Die party doen ʼn beroep op huiseienaars in Capitalpark om nie bykomende geboue op hul eiendom op te rig sonder die nodige toestemming van die metro se departement van ruimtelike ontwikkeling nie.


