Raadslede en amptenare van die ANC-geleide Matlosana-plaaslike munisipaliteit se persoonlike agterstallige munisipale skuld beloop reeds meer as R25 miljoen.
Die VF Plus het reeds in April 2026 in ‘n skrywe aan die speaker, Stella Mondlane-Ngwenya, daarop aangedring dat hierdie groeiende skuld ingevorder moet word. Die munisipale raad het toe ‘n resolusie aanvaar dat die speaker ingevolge munisipale wetgewing die betrokke raadslede sou aanspreek en dat die munisipale bestuurder, Lesego Seametso, moet toesien dat die kredietkontrole- en skuldinvorderingsbeleid streng op amptenare toegepas word.
Ten spyte hiervan het die bedrag uitstaande skuld van die betrokkenes met meer as R10 miljoen binne ‘n periode van sewe maande (November 2025 tot Junie 2026), van R15 miljoen tot R25,3 miljoen vermeerder.
Die VF Plus het sedert 2025 by herhaling uitgewys dat hierdie situasie totaal onaanvaarbaar is en in stryd met die gedragskode vir raadslede en die toepaslike munisipale wetgewing is.
Dit is dus duidelik dat beide Mondlane-Ngwenya en Seametso in hul versuim strydig met hul pligte en munisipale wetgewing optree.
Dit is ‘n skande dat die munisipale bestuur, raadslede en amptenare wat veronderstel is om as voorbeeld vir die gemeenskap te dien, met hul laksheid en nalatigheid eerder ‘n kultuur van wetteloosheid in Matlosana bevorder.
Die VF Plus sal voortgaan om sulke vergrype te ontbloot en te stry vir die herstel van ‘n etiese en professionele munisipale administrasie in Matlosana.
Die kiesers in Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein moet met hul stemme op 4 November verseker dat die ANC uit regering in Matlosana verwyder word.


