Terwyl duisende inwoners van die Nelson Mandelabaai-metro daagliks sukkel om kos op die tafel te sit, water in krane te kry en riool uit hul strate te hou, het die burgemeester, Babalwa Lobishe, ’n uitspattige gala-aand aangebied om haar stadsrede te lewer.
Dit is ʼn klap in die gesig van gewone belastingbetalers en arm gesinne wat daagliks die gevolge van vervallende dienslewering moet trotseer.
Lobishe se toespraak skets ’n prentjie van vooruitgang, maar die werklikheid op grondvlak vertel ’n ander verhaal.
Belastingbetalers verdien meer as ’n lys van projekte en beloftes – hulle verdien meetbare resultate, aanspreeklikheid en waarde vir elke rand wat bestee word.
Die burgemeester erken self dat werkloosheid steeds op 33,1% staan, dat vervaardigingsmededingendheid afneem, dat beleggersonsekerheid voortduur en dat die metro met ernstige vakatures, verouderde infrastruktuur, instandhoudingsagterstande, finansiële druk en uitstaande skuld worstel.
Dit is nie geringe kwessies nie, maar die kernverantwoordelikhede van ’n munisipaliteit.
Die metro se inkomste-invorderingskoers vir Julie 2026 was slegs 78,3%. Terselfdertyd word R105 miljoen vir ’n nuwe ondernemingshulpbronbeplanning-stelsel (ERP-stelsel) begroot, terwyl water- en elektrisiteitsverliese, swak besteding van toelaes en finansiële bestuursprobleme voortduur.
In 2022/23 was R122,9 miljoen se voorwaardelike toelaes onbestee. Hiervan is R63,7 miljoen nie vir oordrag goedgekeur nie en het dit nie vir plaaslike dienslewering beskikbaar gebly nie.
Miljoene rande wat spesifiek vir gemeenskappe en infrastruktuur bedoel was, is eenvoudig nie betyds benut nie.
Dit is onaanvaarbaar dat ’n munisipaliteit voortdurend beweer daar is nie genoeg geld nie, ’n luukse gala aanbied terwyl fondse wat spesifiek vir dienslewering beskikbaar gestel is, nie behoorlik aangewend word nie.
Dieselfde beginsel geld vir water, paaie, elektrisiteit, sanitasie en vullisverwydering. Die toets is nie hoeveel geld bestee is of hoe indrukwekkend die gala was nie, maar of inwoners betroubaar basiese dienste ontvang.
Die stadsrede behoort ’n verslag van aanspreeklikheid te wees: Wat is belowe? Wat is gelewer? Wat het misluk? Wat het dit gekos? En wie is verantwoordelik?
Die VF Plus glo Nelson Mandelabaai kan beter vaar. Ons wil ’n munisipaliteit hê wat terugkeer na die basiese beginsels, belastingbetalers beskerm, verkwisting beëindig en elke departement teen duidelike teikens meet.
Die verkiesing gaan nie oor slagspreuke of galas nie. Dit gaan oor aanspreeklikheid, bekwame regering en ’n metro wat weer werk.


