Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement van maatskaplike ontwikkeling moet krisis rondom organisasies sonder winsbejag dringend oplos

Die VF Plus is bekommerd daaroor dat sowat 203 279 nie-winsgewende organisasies die risiko loop om te sluit weens ‘n versuim om jaarverslae in te dien.

Altesame 41 787 instansies is reeds hieroor in kennis gestel en 6 221 se hulp is reeds gestaak.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het met die bekendmaking van hierdie syfers gesê daar moet “aanspreeklikheid en deursigtigheid” aan die kant van die organisasies wees.

Die VF Plus is van mening dat daar wel voldoen moet word aan die Wet op Organisasies Sonder Winsbejag, maar om meer as 200 000 organisasies te wil sluit, gaan ‘n absolute maatskaplike krisis in Suid-Afrika veroorsaak.

Die departement moet eerder hierdie organisasies bystaan om aan die betrokke wetgewing te voldoen.

Die departement kan nie vinger wys as sy eie sake geensins in orde is en hy self nie verantwoordelik optree nie.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Nokuzola Gladys Tolashe, moet verduidelik waarom haar departement toelaat dat Sassa-amptenare en direkteure maatskaplike toelaes ontvang en watter stappe daar al geneem is om teen hierdie amptenare op te tree.

Die VF Plus sal graag wil sien dat hierdie amptenare aangekla, in hegtenis geneem en voor die howe gedaag moet word.

Die departement het ook onreëlmatige uitgawes gehad van sowat R67 miljard gedurende die 2023/24-finansiële jaar. Aansoekers van toelaes vir kinders en bejaardes het ook in 2024 aangedui dat hul aansoeke wel goedgekeur is, maar dat die toelaes nie uitbetaal is nie.

Die minister self het versuim om aanbevelings van die parlement gedurende die 2022/23-boekjaar in werking te stel deur vakante poste in haar departement te vul.

Dit is duidelik die minister self tree ook nie verantwoordelik op nie. Die departement het boonop ‘n afname in prestasie getoon gedurende 2023/24.

Daar was in die verlede voorvalle waar die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling ook nie fondse uitbetaal het nie alhoewel alle kontrakte en administrasie in plek was.

Die howe moes hier ingryp om te verhinder dat nie-winsgewende organisasies hul deure sluit.

Toelaes wat tans aan kinderhuise betaal word, is ook onvoldoende en die VF Plus betreur die feit dat bejaardes, kinders en weerloses in ons gemeenskappe vertrap word en daar nie behoorlik na hul omgesien word nie.

Die minister en die departement sal dringend hul sake in orde moet kry om Suid-Afrika van ‘n algehele maatskaplike en humanitêre krisis te red.

Die VF Plus gaan in die komende dae ‘n skrywe aan die minister rig om van haar te verneem hoe die probleem opgelos kan word en die organisasies bygestaan kan word eerder as om hulle net summier te sluit en te skrap.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.