Onrus kom telkens aan die begin van die akademiese jaar aan Suid-Afrikaanse universiteite voor, soos nou weer die geval is.
Die rede is telkens die onvermoë van universiteite om aan die geweldige aanvraag te voldoen, sowel as NSFAS-verwante kwessies rakende die uitbetaling van klasgeld en verblyftoelae.
Aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein en QwaQwa en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Gqberha is klasse vandeesweek ontwrig. By die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Kaapstad is betogings met betrekking tot verblyf ervaar.
Die vraag is of hierdie onrus verder gaan uitbrei.
Die werklikheid is dat die ANC-regering, veral sedert die “Fees must fall”-onrus in 2016, onmoontlike beloftes gemaak het. Sonder om die vermoë van universiteite om studente in te neem drasties te verhoog, het hulle gratis hoër onderwys vir die “werkersklas en armes” belowe.
Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) moes in ‘n ommesientjie verander van ‘n kleinerige bestuurder van lenings na die administrateur van honderdduisende beurse wat klasgelde, verblyf en sakgeld gereeld en akkuraat moet uitbetaal. Dit sonder dat die organisasie kans gekry het om stelsels en personeel hierby aan te pas.
Boonop is daar die regering se belofte dat daar vir alle kwalifiserende aansoekers beurse sal wees.
Met sowat driehonderdduisend matrikulante wat met Baccalaureus-toelating slaag, is daar eenvoudig nie voldoende sitplekke of beddens aan Suid-Afrikaanse universiteite nie.
Individuele instellings bestuur hierdie plofbare situasie deur aansoeke uitsluitlik aanlyn te aanvaar, sodat gefrustreerde studente nie by hul hekke saamdrom nie.
Die hele situasie lei daartoe dat die effektiewe punt vir universiteitstoelating hoër as die amptelike drempel is, aangesien universiteite net die beter aansoeke aanvaar.
Vir wit studente is dit selfs nog hoër, want universiteite jaag raskwotas volgens statutêre kwotas vir transformasie na.
Afrikaanse studente sal toenemend na Afrikaanse private instellings moet kyk om erkende kwalifikasies onder vreedsame omstandighede en sonder diskriminasie teen hulle te verwerf.
Om te studeer is immers ‘n omvattende opvoedkundige ervaring en nie slegs die verwerwing van teoretiese kennis nie.


