Dit blyk duidelik uit die ouditeur-generaal (OG) se 2023/24-ouditverslag dat die ANC in die Nala-plaaslike munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron) nie in staat is om die munisipaliteit doeltreffend te bestuur nie.
Nala het, soos die afgelope vyf jaar, weer ʼn gekwalifiseerde opinie met bevindings van die OG ontvang.
Dit beteken daar was geen duidelike verbetering in die munisipaliteit se finansiële bestuur nie.
Alhoewel die munisipaliteit sy begroting ten volle bestee het, kon hy net 46% van sy teikens bereik.
Vrugtelose en verkwiste uitgawes in Nala beloop meer as R145 miljoen weens rente op agterstallige skuld aan Eskom en Vaal Sentraal. Tans skuld die munisipaliteit hierdie twee entiteite meer as R1.6 miljard.
Ongemagtigde uitgawes van meer as R508 miljoen en onreëlmatige uitgawes van meer as R271 miljoen wys verder dat die munisipaliteit eenvoudig nie finansiële dissipline kan toepas nie.
Verder gaan 55% van die water en 24% van die krag wat Nala aankoop verlore weens onwettige aansluitings en vervalle infrastruktuur.
Dit neem Nala ook gemiddeld 796 dae om sy krediteure te vereffen.
Dit is duidelik dat die ANC-burgemeester, Lilo Mashiya, geen beheer het oor die munisipaliteit en sy amptenare nie.
Die tyd het aangebreek om van die ANC in Nala ontslae te raak ten einde die munisipaliteit te herstel en bou.


