Die Valke en die padverkeersbestuurskorporasie het Maandag (10 Februarie) ook sewe verkeersbeamptes by die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit se bestuurtoetsstasie in hegtenis geneem vir beweerde bedrog.
Dit volg nadat elf amptenare verlede Vrydag by die Lephalale-bestuurtoetsstasie in hegtenis geneem is vir die beweerde “verkoop” van bestuurslisensies.
Die VF Plus is van mening dat die euwel verder strek as net die twee munisipaliteite en dat die ondersoeke na al die munisipaliteite in Limpopo uitgebrei moet word.
Weens hierdie amptenare se onverskillige optrede word voertuigbestuurders wat nie behoorlik opgelei of geëvalueer is nie , op paaie losgelaat. Dit verhoog die risiko van gevaarlike situasies en ongelukke.
Die VF Plus gaan in die munisipale raad daarop aandring dat daar strenger kontroles by Thabazimbi se bestuurtoetsstasie ingestel word om te voorkom dat leerling- en bestuurslisensies onwettig bekom word.
Dit moet gereelde oudits insluit van leerling- en bestuurslisensies.
Die party doen ook ʼn beroep op die publiek om nie aan hierdie korrupte praktyke deel te neem nie en dit aan te meld by die toepaslike owerhede.


