Die Afrikaner het nog altyd gehelp om Suid-Afrika te bou en te ontwikkel. Sy regte moet net erken word, want hy wil hier bly en help om die land só voorspoedig te maak dat niemand wil trek nie.
Die land se Grondwet en selfs die ANC se Vryheidsmanifes bevestig dat die land behoort aan al sy inwoners; swart en wit en dat almal verenig staan in hul diversiteit.
Die Afrikaner is onvervreembaar deel van hierdie diversiteit en wil help om die land voorspoedig te maak. In hierdie opsig sê die VF Plus dankie aan pres. Donald Trump van Amerika wat die kollig op die Afrikaner en sy probleme geplaas het.
Indien daar wel mense is wat die land wil verlaat, is dit hul vrye keuse, die VF Plus sal nie voorskriftelik daaroor wees nie.
Daar is egter sekere ongemaklike waarhede waarmee in die proses gehandel moet word, soos grondhervorming, die Onteieningswet en die aanname dat onteiening sonder vergoeding die grondprobleem gaan oplos.
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê in ‘n jaarverslag oor die restitusieprogram dat daar tot op hede sowat 80 000 eise afgehandel is. Hiervan het 94% van die eisers eerder geldelike vergoeding as grond verkies.
In gevalle waar daar wel grond oorgedra is, het 80% van die landbouprojekte op die grond totaal misluk. Dit is daarom verkeerd om te dink dat onteiening sonder vergoeding ‘n kitsoplossing vir suksesvolle grondhervorming sal wees.
Die wêreld se siening van Suid-Afrika en die invloed van sosiale media moet tesame met hierdie kwessie verreken word. Vergrype soos onwettige grondbesettings gaan nie meer ongesiens verby nie.
In een voorval wat tans afspeel, word ‘n boer van Wepener in die Vrystaat se plaas deels onwettig beset en die polisie weier om op te tree. In ‘n ander voorval by Stilfontein word grond onwettig beset en die polisie weier om selfs ‘n hofbevel uit te voer om die besetters te verwyder.
In sulke gevalle kan daar met reg vingers na die staat gewys word as aandadiges aan grondgrype.
Probleme soos hierdie kan net opgelos word deur ongemaklike waarhede te erken, dit te bespreek en dit uit die weg te ruim. Almal moet saamwerk om Suid-Afrika só voorspoedig te maak dat niemand hom wil verlaat nie.


