Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien klag by MRK en parlement se etiekkomitee in teen Andile Mngxitama oor aanhitsing tot geweld en moord

Die VF Plus het vandag ‘n klag teen Andile Mngxitama, parlementslid van die MK-party, ingedien by die menseregtekommissie (MRK) asook die parlement se etiekkomitee vir haatspraak en die aanhitsing van geweld.

Dit spruit uit inskrywings op die sosiale mediaplatform X aan die hand van die Amerikaanse president Donald Trump se besluit om vlugtelingstatus aan Afrikaners toe te staan.

Mngxitama se inskrywing hieroor lui: “Ek stem saam met Trump dat die gronddiewe Suid-Afrika moet verlaat en Amerika toe gaan. Ons land sal dan vry wees van kolonialiste. Mabahambe!” .

Hierop antwoord ene @BoerHindoe: “Net in ’n (doods)kis, Andile. Net in ‘n kis. En ek twyfel aan jou vermoë om selfs dit te reël. Dan antwoord Mngxitama: “Plaas moord” (sic).

Daar kan geen twyfel bestaan dat Mngxitama hiermee sê dat Afrikaners (en boere), wat hy “gronddiewe” noem, vermoor moet word nie. Dit is ernstige en onverbloemde haatspraak en aanhitsing tot moord deur ‘n bekende openbare figuur.

Die term “Mabahambe” wat losweg vertaal word in; “hulle moet weggaan” het ‘n gebruiksgesegde geword in xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika in die onlangse verlede.

Sulke uitsprake deur ‘n openbare figuur of enigiemand anders kan op geen manier geregverdig word in ‘n vry en demokratiese land nie, veel minder in ‘n land met ‘n plofbare politieke klimaat.

Die uitsprake kan ook geensins as vryheid van uitdrukking geregverdig of toegelaat word nie. Die vlakke van moord en geweldsmisdaad in die land is te hoog daarvoor.

Die VF Plus het ook ‘n brief aan die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Thoko Didiza, geskryf om te vra dat Mngxitama se optrede na die parlement se etiekkomitee verwys word.

As parlementslid het hy ‘n eed afgelê om die Grondwet te eerbiedig en uitsprake soos hierdie druis lynreg in teen alle grondwetlike beginsels van vryheid en regverdigheid. Dit kan veral nie geduld word van lede van die parlement nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.