Danksy voortgesette druk van die VF Plus het die Ekurhuleni-metro se bou-afdeling erken dat die aanbou van kamers op ’n erf in Ravenklip, Boksburg, onwettig is.
Die VF Plus het reeds op 14 Junie klagtes van inwoners hieroor ontvang en ’n formele versoek aan die metro gerig om te bevestig of die eienaar in besit is van goedgekeurde bouplanne.
Die metro het op 30 Junie ’n afdwingbaarheidskennisgewing aan die eienaar uitgereik en hom tot 30 Augustus tyd gegee om bouplanne in te handig of daarvoor aansoek te doen. ’n Inspeksie is ook uitgevoer en die eienaar is opdrag gegee om alle bouwerk te staak.
Geen bouplanne of aansoek is sedertdien ontvang nie en die saak is na die metro se regsafdeling verwys.
Die VF Plus het egter steeds klagtes van inwoners ontvang dat bouwerk ná die kennisgewing voortgegaan het.
Die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde bepaal duidelik dat niemand bouwerk mag oprig sonder die nodige goedgekeurde bouplanne nie.
Die VF Plus gaan nie die saak hier laat eindig nie. Die party sal:
• Die saak formeel by die regsafdeling opvolg om te bepaal wanneer die dossier ontvang is en watter stappe geneem gaan word
• Skriftelik versoek dat die metro bevestig of bouwerk ná die kennisgewing voortgegaan het en of verdere inspeksies plaasgevind het
• Vasstel of enige verdere afdwingingsmaatreëls reeds ingestel is of beplan word
• Die aangeleentheid monitor totdat die metro bevestig dat die wetgewing volledig toegepas is; en
• Verseker dat inwoners terugvoer ontvang oor die uitkoms
Die VF Plus is van mening dat inwoners nie maande lank moet wag vir die metro om op te tree nie. Openbare vertroue in die boubeheerafdeling moet herstel word en die departement mag nie stilbly nie.
Die party sal die saak noukeurig monitor totdat daar duidelikheid is oor die regsproses, die uitkoms en die afdwinging van die wet.


