Die VF Plus dring daarop aan dat die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit dringend volledige duidelikheid verskaf oor die maandelikse heffing van R582,64 wat na bewering op eiendomme gehef word wat van die munisipale elektrisiteitsnetwerk ontkoppel is en uitsluitlik sonkrag gebruik.
AfriForum het op 4 September 2026 die wettigheid, rasionaliteit en billikheid van hierdie heffing bevraagteken en aangedui dat dit selfs op die rekeninge van inwoners verskyn wat geen elektrisiteit van die munisipaliteit ontvang nie.
Die VF Plus het die munisipale bestuurder, mnr. Roy Makwakwa, versoek om onder meer die koste-van-voorsieningstudie, die toepaslike raadsbesluit, die bewys van openbare deelname asook Nersa se goedkeuring en volledige redes vir die tarief aan raadslede beskikbaar stel.
Die munisipaliteit moet ook verduidelik watter werklike diens of voordeel aan ’n inwoner gelewer word vir hierdie maandelikse bedrag.
Thaba Chweu kan nie bloot ’n elektrisiteitsverwante heffing op inwoners se rekeninge plaas sonder ’n duidelike, wettige en behoorlik gemotiveerde rede nie. Inwoners mag nie gedwing word om vir ’n diens te betaal wat hulle nie ontvang nie.
Volgens AfriForum het die organisasie reeds op 20 Julie 2026 dokumentasie en verduidelikings van die munisipale bestuurder versoek, maar geen antwoord is ontvang nie.
Die beweerde versuim om op ’n geldige versoek om inligting te reageer, versterk die vermoede dat die nodige deursigtigheid en verantwoording ontbreek.
Indien die heffing wettig en kosteverwant is, behoort die munisipaliteit die ondersteunende dokumentasie sonder verdere versuim openbaar te maak. Die VF Plus het versoek dat die saak op die agenda van die volgende toepaslike raadsvergadering geplaas word.
Die munisipaliteit behoort ook die toepassing en invordering van die heffing tydelik op te skort totdat die regsgrondslag, openbare deelnameproses, kosteberekening en Nersa-goedkeuring volledig openbaar gemaak en behoorlik ondersoek is.
Die inwoners van Thaba Chweu gaan reeds gebuk onder hoë elektrisiteitstariewe, verhoogde vaste heffings en voortdurende gebrekkige dienslewering. Hulle kan nie verder as ’n maklike bron van inkomste behandel word om die gevolge van jarelange finansiële wanbestuur te dra nie.
Die VF Plus sal voortgaan om druk uit te oefen totdat die munisipaliteit volledige antwoorde verskaf en daar sekerheid is dat inwoners slegs wettige, billike en behoorlik goedgekeurde tariewe betaal.


