Die VF Plus neem kennis van ‘n Bloemfonteinse hooggeregshofbevel dat die nuwe munisipaliteit in die Xhariep-distrik eers in 2031 gevestig sal word.
Die bevel volg na ‘n ooreenkoms tussen onder meer die Vrystaatse regering en die herafbakeningsraad nadat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ‘n dringende aansoek vir ‘n interdik teen die verdeling van die Kopanong-plaaslike munisipaliteit in twee munisipaliteite gebring het.
Ingevolge die ooreenkoms sal die komende munisipale verkiesing volgens die grense van Kopanong in die 2021 verkiesing se wyk- en munisipale grense plaasvind.
Hoewel die VF Plus hom beywer vir meer en kleiner munisipaliteite, sou die verdeling van Kopanong in twee munisipaliteite nie die nodige verandering bring nie.
Tans bestaan die munisipaliteit uit nege dorpe. Dienslewering is vir jare reeds ‘n krisis en die ANC het geen plan om met die munisipaliteit se enorme skuldlas te handel nie.
Die hele distrik gaan gebuk onder armoede en ‘n gebrek aan ekonomiese groei.
‘n Nuwe munisipaliteit gaan nie noodwendig groei verseker nie.
Die Suid-Vrystaat het dringende oplossings nodig soos vrye-ekonomiese sones en beleggings uit die privaat sektor.
Die Vrystaatse regering, Kopanong en die Xhariep-distrik sal groei moet bewerkstellig om die ekonomie daar te red.


