Meer as twee jaar nadat sowat R20 miljoen aan ‘n nuwe kraglyn en herstelwerk aan die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit se hoofsubstasie bestee is, bestaan daar steeds ernstige vrae oor die projek en die wyse waarop dit bestuur is.
Die projek het gevolg op die elektrisiteitskrisis van Oktober en November 2024 wat inwoners en ondernemings groot skade en ontwrigting berokken het. Ten spyte van die omvang van die besteding, bly daar onsekerheid oor onder meer die gebruik van die kraglyn, die goedkeuringsproses wat gevolg is en die wyse waarop kontrakte toegeken is.
Die situasie word verder bemoeilik deur die hantering van ‘n ondersoek na die projek wat deur die munisipaliteit se komitee oor openbare rekeninge (MPAC) aangevra is.
‘n Verslag oor die aangeleentheid is aan die munisipale raad voorgelê sonder dat MPAC die bevindings bespreek of die verslag goedgekeur het. Volgens inligting tot die VF Plus se beskikking het die komitee nie eens vergader om die verslag te oorweeg nie, terwyl dit ook nie vir behoorlike bestudering aan die komitee beskikbaar gestel is nie.
Dit wek ernstige kommer oor die betroubaarheid van die ondersoekproses en of die raad en publiek werklik die nodige antwoorde ontvang het oor die projek en die besteding van openbare geld.
Juis daarom het die VF Plus ‘n skrywe gerig aan die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, Speed Mashilo, met die versoek dat ‘n ondersoek ingevolge artikel 106 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, ingestel word.
Die VF Plus versoek dat die ondersoek onder meer fokus op die besteding van openbare geld, kontraktetoekennings, moontlike belangebotsings en die prosedures wat gevolg is om die verslag aan die raad voor te lê sonder dat MPAC dit behoorlik oorweeg het.
Inwoners het die reg om te weet hoe hul geld bestee is en of alle wetlike en administratiewe prosesse nagekom is. Deursigtigheid en aanspreeklikheid is nie onderhandelbaar wanneer openbare fondse ter sprake is nie.


