Die VF Plus eis dringende en sigbare optrede van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) en die polisie nadat ’n jarelange dispuut oor onwettige straathandel by die East Rand Traders Square in Boksburg verlede week in geweld en saakbeskadiging ontaard het.
Die sentrumbestuur sukkel reeds meer as twee dekades met informele handelaars wat sonder permitte op die sypaadjies in Cynthiaweg handel dryf, ingange versper en kliënte en huurders onveilig laat voel. Ten spyte van jarelange klagte aan die EMPD het wetstoepassing nagelaat om op te tree.
Om self orde en veiligheid te probeer herstel, het die sentrumbestuur onlangs ’n gedeelte van Cynthiaweg wettiglik by die Ekurhuleni-metro gehuur en begin om dit te omhein.
Verlede Donderdag (12 November) het informele handelaars egter in opstand gekom teen die nuwe heining, wat gelei het tot ’n konfrontasie met die sentrum se privaat veiligheidspersoneel. Dele van die omheining is verniel en die skade beloop reeds sowat R300 000.
Sedertdien word werknemers en bestuurders na bewering met verdere geweld gedreig en geïntimideer, wat ernstige gevaar vir huurders, besoekers en die omliggende gemeenskap inhou.
In reaksie op ’n dringende skrywe van die VF Plus, het die EMPD se waarnemende adjunkpolisiehoof vir operasies en gespesialiseerde dienste, Ngamla Nkosi, bevestig dat die opsetlike saakbeskadiging strafregtelik deur die polisie ondersoek moet word.
Nkosi het verder onderneem dat die EMPD en die polisie ’n gesamentlike operasie sal uitvoer om op te tree teen ongemagtigde handelaars buite die sentrum, asook teen beweerde onwettige bedrywighede binne die kompleks.
Die VF Plus verwelkom hierdie onderneming, maar maan dat beloftes op papier nie meer genoeg is nie. Belastingbetalers en wettige sakeondernemings kan nie aan geweld oorgelaat word omdat die munisipaliteit versuim om sy eie verordeninge af te dwing nie.
Die VF Plus sal die situasie fyn dophou om te verseker dat die gesamentlike operasie wel plaasvind en ’n blywende, wettige oplossing bereik word.


