Op hierdie Vrouedag eer die VF Plus die vroue van die verlede en in die besonder vandag se vroue wat die toekoms bou.
Suid-Afrika se vroue is die meerderheid van die bevolking en het juis ‘n sleutelrol te speel in die vorming van die toekoms.
Vroue se bydrae tot Suid-Afrika is onmeetbaar. Hulle is pioniers, moeders en gemeenskapsleiers wat met opoffering en deursettingsvermoë gesinne en gemeenskappe opbou.
Vroue kan daarom hul stem as kragtige instrument gebruik om die koers van die land ten goede te verander.
Met die komende munisipale verkiesing op 4 November het vroue die geleentheid om te besluit wie hulle moet verteenwoordig.
Die daaglikse werklikheid in Suid-Afrika is een van misdaad, swak dienslewering, onveilige skole en water- en elektrisiteitsprobleme.
Vroue weet uit eie ervaring wat in hul woonbuurte aangaan en daarom is hul stem en insig van onskatbare waarde.
Politiek het sterk, beginselvaste en praktiese vroue nodig. Vroue wat nie wag dat ander namens hulle praat nie. Hulle moet self die leiding neem, stem volgens hul oortuigings en leiers verkies wat daadwerklik optree om hul belange te bevorder.
Die VF Plus glo dat vroue se stemme deurslaggewend is vir ’n veiliger, regverdiger en beter bestuurde Suid-Afrika.
Ons doen daarom ’n dringende beroep op elke vrou: Kry die nodige inligting, praat met jou kennisse en gaan stem op 4 November. Jou stem het mag. Dit is tyd dat jy dit gebruik.


