Die VF Plus verwelkom die Nala-plaaslike munisipaliteit se besluit om die ad hoc-komitee se ondersoekverslag oor diefstal, munisipale sekuriteitsdienste en die beskerming van munisipale infrastruktuur te aanvaar.
Die verslag volg na ‘n omvattende ondersoek oor verskeie maande.
Die ondersoek is gedoen nadat kabeldiefstal en ander diefstal by die munisipaliteit gedurende 2025 hand oor hand toegeneem het. Die raad het ‘n VF Plus-mosie in Desember 2025 om die omvang van die probleem te ondersoek aanvaar en ‘n ad hoc-komitee aangestel om die ondersoek te lei.
Hoewel die ondersoek aanvanklik op kabeldiefstal gefokus het, het die komitee ernstige tekortkominge in die munisipaliteit se sekuriteitstelsels, toesig, wetlike nakoming en die beskerming van munisipale infrastruktuur blootgelê.
Die verslag bevat ‘n omvattende reeks aanbevelings wat die raad nou aanvaar het. Dit sluit onder meer in beter beveiliging van transformators, werkswinkels en ander munisipale geriewe, strenger toegangsbeheer vir voertuie en persone, die installering en effektiewe gebruik van kamerastelsels, gereelde inspeksies en verslagdoening oor die veiligheid van munisipale infrastruktuur, asook die skoonmaak van oorgroeide gebiede rondom kritieke munisipale infrastruktuur om sigbaarheid te verbeter en misdaadgeleenthede te beperk.
Die aanvaarding van die verslag beteken dat die munisipaliteit nou konkrete stappe sal moet neem om diefstal daadwerklik te bekamp en munisipale infrastruktuur beter te beskerm. Dit is ‘n belangrike stap vorentoe vir Bothaville en Wesselsbron en wys wat bereik kan word wanneer raadslede hul toesigrol ernstig opneem en die administrasie aanspreeklik hou.
Die VF Plus verwag nou dat die aanbevelings sonder onnodige vertraging in werking gestel sal word en dat gereelde vorderingsverslae aan die raad voorgelê sal word sodat behoorlike toesig uitgeoefen kan word.
Met die plaaslike verkiesing op 4 November kry inwoners die geleentheid om raadslede te kies wat die munisipaliteit aanspreeklik hou, openbare bates beskerm en dienslewering eerste stel.
Die VF Plus bly daartoe verbind om hierdie beginsels te bevorder en in die belang van die inwoners van Nala op te tree.


