Die VF Plus verwelkom Sanral se aankondiging dat konstruksie aan die gevaarlike R510 tussen Northam en Thabazimbi hervat word.
Dit volg ná talle klagtes uit die plaaslike gemeenskap oor roekelose bestuur, ʼn gejaag en gevaarlike verbysteek oor sperstrepe.
Die toestand van die pad het reeds verskeie ernstige en noodlottige ongelukke veroorsaak, insluitend ’n busongeluk waarin skoolkinders betrokke was.
Sedert die vorige kontrakteur die terrein aan die einde van 2024 verlaat het, is die pad in ’n uiters gevaarlike toestand gelaat, met groot slaggate, smal rybane en geen stop-en-ry-beheer nie. Tydelike spoedbulte sonder behoorlike padskouers het die gevaar van botsings verder verhoog.
Die VF Plus het hierdie kwessies deurlopend deur mediaverklarings, radio-onderhoude en amptelike korrespondensie aangespreek.
Sanral het nou ’n kontrak van sowat R339 miljoen aan Lebaka Construction toegeken vir die bou van verbygaan- en klimbane, geteerde skouers, ‘n vierbaan-dwarssnit na Northam in beide rigtings na die dorp en dreineringstrukture.
Plaaslike raadslede sal intussen direk met die provinsiale verkeersowerhede en die kontrakteurs vergader om te verseker dat:
• Waarskuwingstekens dringend opgerig word
• Spoedbeperkings gemonitor en afgedwing word; en
• dat verkeersbeamptes op die R510 ontplooi word.
Die party sal die vordering van die konstruksie noukeurig monitor om te verseker dat daar nie weer onreëlmatighede of vertragings ontstaan nie.


