Die Ekurhuleni-metro se departement van water en sanitasie is besig om ’n ernstige gesondheidsrisiko te skep deur nie die rioolprobleem langs die Germiston-stadion se B-veld spoedig op te los nie.
Riool het twee weke gelede langs die velde begin vloei. Die VF Plus het die probleem dadelik by die departement aangemeld. Amptenare het eers na ’n paar dae die terrein besoek en probeer om die storting te stop, maar dit was onsuksesvol.
Intussen speel kinders steeds op en langs die veld, terwyl groot dele van die gras en omliggende pad met riool bedek is. Atlete en rugbyspelers gebruik ook die veld ondanks die aanhoudende slegte reuk.
Die VF Plus het Maandag weer die departement gekontak in die hoop dat die saak met groter erns hanteer sou word. Die antwoord was dat ’n privaat kontrakteur aangestel gaan word om die probleem op te los sonder enige aanduiding van wanneer dit sal gebeur.
Hierdie trae reaksie van die metro kan nie langer geduld word nie. Die Germiston-stadion (voorheen bekend as die Herman Immelman-stadion) is ’n A-klas-gerief waarop honderde atlete, waarvan die meeste skoolkinders is, weekliks oefen.
Die VF Plus sal daagliks druk op die metro plaas totdat die rioolstorting gestop en die terrein behoorlik skoongemaak is.
Indien die situasie voortduur, kan dit ernstige gesondheidsgevare vir die kinders en atlete inhou.


