Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Carletonville-slagting: Waarskuwingstekens was daar

Wanneer agt swaar gewapende aanvallers met AK-47’s en pistole ’n taverne kan binnestorm, 17 mense doodskiet en 15 ander wond, is dit ’n ernstige waarskuwing dat georganiseerde gewapende misdaad in dele van Gauteng buite beheer is.

Die aantal oorledenes het intussen na 18 gestyg.

Die VF Plus verwelkom die polisie se vinnige optrede, asook die eerste inhegtenisneming wat intussen in Tzaneen gemaak is. Die publiek het egter die reg op meer as net ’n inhegtenisneming ná so ’n voorval. Die vraag is waarom die polisie se misdaadintelligensie-vermoë nie die misdadige netwerke agter sulke geweld vroeër kon identifiseer en ontwrig nie.

Dit is veral kommerwekkend dat Gauteng se adjunk-polisiekommissaris, genl.maj. Fred Kekana, aangedui het dat die aanval by Dora’s Taverne in Wedela, Carletonville, moontlik met ’n vorige skietery by dieselfde taverne verband hou en dat vergelding tussen groepe ondersoek word.

Slegs sowat ’n maand of twee gelede was daar reeds ’n dodelike skietvoorval by dieselfde taverne, terwyl inwoners van Wedela voortdurend geweervuur tussen onwettige mynwerkers moet verduur.

Die Gautengse polisiekommissaris, lt.-genl. Tommy Mthombeni, het intussen ook die toneel besoek en aangedui dat ‘n multidissiplinêre span saamgestel gaan word om die slagting te ondersoek. Die VF Plus verwelkom dié stap, maar beklemtoon dat dit nie genoeg is nie.

Die VF Plus eis daarom:

• Dat misdaadintelligensie in Carletonville en die Wes-Rand dringend verskerp word;
• dat die oorsprong en verspreidingsnetwerke van die AK-47’s en ander onwettige vuurwapens ondersoek word;
• dat enige georganiseerde misdaad-, bende- of onwettige-mynbounetwerke wat met die geweld verband hou, ontbloot en ontbind word;
• dat die beskikbare polisiekapasiteit in die Wes-Rand dringend versterk word; en
• dat die Gautengse regering en die polisie rekenskap gee van konkrete maatreëls, verantwoordelikhede en tydraamwerke om sulke aanvalle te voorkom.

Die inwoners van Carletonville en die Wes-Rand verdien owerhede wat proaktief optree, georganiseerde misdaad ontmasker en hul burgers beskerm.

Die VF Plus betuig sy meegevoel met die families van die slagoffers wat gesterf het en wens die gewondes ʼn spoedige herstel toe.

Die VF Plus sal die Gautengse regering en die polisie verantwoordbaar hou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.