Die VF Plus doen ’n beroep op die Swartland-munisipaliteit om te verseker dat inwoners wat deur huisbrande geraak word – veral behoeftige en kwesbare huishoudings – spoedig toegang tot noodhulp en ondersteuning kry.
Dié versoek volg op ’n huisbrand in Wesbank, Malmesbury, waarin ’n behoeftige gesin se woning onbewoonbaar gelaat is. Die huishouding was reeds sowat drie jaar sonder elektrisiteit en word as ’n deernishuishouding beskou. Die brand het hul reeds moeilike omstandighede verder vererger.
Wanneer ’n gesin hul woning verloor, verloor hulle dikwels ook basiese noodsaaklikhede soos klere, beddegoed en kos. Vir gesinne wat finansieel swaar kry, is die gevolge besonder ernstig.
Die VF Plus versoek die munisipaliteit om duidelike, vinnige en doeltreffende ondersteuning in sulke gevalle te gee. Dit moet onmiddellike behoeftes soos kos, komberse en noodsaaklike huishoudelike items dek, asook veilige alternatiewe akkommodasie waar nodig. Kinders en ander kwesbare persone moet spesifiek in ag geneem word.
Die munisipaliteit moet bestaande prosedures vir brandslagoffers hersien, sodat alle betrokke afdelings vinnig en gekoördineerd kan optree. Behoeftige huishoudings kan dit nie bekostig om dae lank sonder basiese noodsaaklikhede of ’n veilige woonplek te wees nie.
Die VF Plus waardeer wel die hulp wat uiteindelik aan die betrokke gesin verleen is.
Terselfdertyd doen die party ’n beroep op die gemeenskap van Malmesbury om, waar moontlik, die gesin te ondersteun met klere, kos, komberse, lakens en gordyne.
Persone wat graag wil help, kan raadslid Amber Booysen by 071 445 2121 skakel.


