Die brandskade aan winkels in die middedorp van Vanderbijlpark kon aansienlik minder gewees het indien die nooddienste betyds op herhaaldelike oproepe gereageer het.
’n Brand het deur die nag uitgebreek in ’n bedwinkel op die hoek van Attie Fourie- en Paul Sauerstraat en na aangrensende winkels, onder meer ʼn haarsalon, versprei. Die inhoud van die winkels is heeltemal vernietig.
Die eienaar van die bedwinkel het die VF Plus meegedeel dat hy kort nadat hy van die brand in kennis gestel is, vir byna ’n halfuur probeer het om die nooddienste te ontbied. Niemand het die telefoon beantwoord nie.
Toe die brandweer eindelik opgedaag het, het die haarsalon se dak reeds begin instort. Geen inhoud kon gered word nie.
Die VF Plus beskou die trae reaksie as erge nalatigheid en versuim. Die party het reeds ’n brief gestuur aan die brandweerhoof, Mhlengi Makhubalo, en eis ’n dringende verduideliking oor waarom daar nie dadelik op die noodoproepe gereageer is nie.


