Die verkeersliginfrastruktuur in die Ekurhuleni-metro is wanfunksioneel en die VF Plus het ʼn beroep op die metro en die departement van paaie en vervoer gedoen om die oorsake te identifiseer, soos elektriese foute en verouderde stelsels.
Talle verkeersligte in die metro funksioneer vir ʼn geruime tyd nie meer nie. Dit ly tot erge verkeersverwarring met die verhoogde risiko van ongelukke.
Een van die probleempunte is Atlasweg waar alle verkeersligte soms buite is . Atlasweg is die hoofroete vanaf Boksburg na Kemptonpark.
Verkeersligte by die afritkruising na die N12 Wes-snelweg is ook buite werking. Strate in Atlasweg wat geraak word is Finch-, Park-, Merlin-, Bass-, O’Hare-, Geldenhuys en Benaeroweg.
Die huidige toestand plaas motorbestuurders en voetgangers in ‘n uiters gevaarlike situasie.
Die VF Plus stel voor dat ‘n plan in werking gestel word wat gevorderde moniteringstelsels kan aanwend om probleme onmiddellik op te spoor en reg te stel.
Die metro moet ook die aankoop van slimverkeersligte en outomatiese beheerstelsels oorweeg. Die stelsel kan outomatiese aanpassings maak tydens veranderende verkeersvolume en noodsituasies.
Dit sal verhoed dat motoriste vir ure in die verkeer bestee weens verkeersligte wat wanfunksioneer.
Voldoende tydelike verkeersbeheer by sleutelpunte is intussen noodsaaklik totdat die huidige probleem opgelos is.
Die VF Plus steun ‘n gesonde, veilige en doeltreffende verkeersinfrastruktuur en sal alles in sy vermoë doen om die ANC/EFF-koalisie te dwing om toe te sien dat verkeerstelsels in die metro behoorlik funksioneer.


