Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se aankoop van twee splinternuwe brandweerwaens sal die druk op buurtwagte verminder wat gedurende die wintermaande vure met mobiele watertenks moet bestry.
ʼn Soortgelyke brandweerwa wat verlede jaar aangekoop is, is tans by die vervaardiger vir ʼn diens en word teruggehou omdat die diens-kostes nog nie betaal is nie.
Emfuleni, wat Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging bedien, het verlede week ʼn bekendstelling van die twee Mercedes-brandweerwaens gehou ten tyde van ʼn amptelike seremonie onder leiding van die burgemeester, mnr. Sipho Radebe, en die burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, mnr. Ellias Mokoena.
Alhoewel die VF Plus die aankoop van die brandweerwaens verwelkom, bestaan daar vrese dat Emfuleni nie daarvoor sal kan betaal nie. Die twee brandweerwaens kos R6,2 miljoen elk.
Dit sal verder tragies wees as die brandweerwaens weens Randwater se beperkte waterdruk na Emfuleni nie daarin kan slaag om brande te blus nie.
Die munisipaliteit se finansiële situasie het nege maande gelede drasties versleg toe Randwater die raad se bankrekening gevries het.
Die VF Plus spreek die hoop uit dat die Emfuleni-munisipaliteit wel die fondse sal voortbring om vir die brandweerwaens te betaal. Die party sal die situasie noukeurig volg.