Die Gauteng-regering se plan om 20 000 geslote baan-televisiekameras in die volgende drie jaar in Gauteng te installeer, is ‘n regte stap in die bestryding van misdaad.
Die VF Plus is egter nie seker of die polisie die druk kan hanteer weens die onderbeskikking van mannekrag en hulpbronne nie.
Dit is algemeen bekend dat die provinsie nie genoeg mannekrag het om misdaad te bekamp nie. Daar is nie genoeg voertuie, wapens, ammunisie en skryfbehoeftes om polisiebeamptes in hul taak te help om misdaad suksesvol te bekamp nie.
Met die installering van die kameras sal daar gewis ʼn toename wees in sake.
Die Gauteng-regering beplan om in die 2023/24-boekjaar 6 500 kameras te installeer, in 2024/25 6 500 en in 2025/26 7 000.
Die kameras sal oor die volgende drie finansiële boekjare aan die Wes-Rand, Sedibeng, Ekurhuleni, Johannesburg, Tshwane en Diepsloot by brandpunte aangebring word.
Die eerste fase sal in Ekurhuleni-metro plaasvind waar die eerste 144 kameras teen ʼn bedrag van R16 miljoen geïnstalleer sal word.
Die doel is om veiligheid en sekuriteit in gemeenskappe te verbeter deur die effektiewe monitering van misdaadaktiwiteite.
Die VF Plus sal die projek noukeurig volg en die regering verantwoordbaar hou indien die projek nie suksesvol uitgevoer word nie.