fbpx
Vryheidsfront Plus

Mkhwebane het publiek in die steek gelaat

Die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, het die publiek in die steek gelaat en was meer oor haar eie belange besorgd as oor die beskerming van die publiek.

Die proses om haar af te dank was die eerste sedert 1994 waar gepoog is om van die voorsitter van ʼn Hoofstuk 9-instelling ontslae te raak.

Hoofstuk 9-instellings speel ʼn belangrike rol in die beskerming van die publiek deur waghond te speel oor staatsinstellings. Dit demokrasie self word sodoende beskerm.

Die parlementêre proses onder die aangewese artikel 194-komitee wat die afgelope agtien maande die OB se geskiktheid ondersoek het, was die mees omvattende, deeglike en billike van dié aard sedert 1994.

Die verslag van die komitee oor die ondersoek beslaan 404 bladsye.

Van die begin van die ondersoek was die strategie van die OB en haar regspan vir my duidelik, en dit was om die ondersoek so lank as moontlik uit te rek om die proses te ondermyn. Dit is presies wat gebeur het.

Haar senior regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu het dit verontwaardig ontken. Na agtien maande en ten minste R36 miljoen aan regskoste kon niemand meer ontken ek was reg nie.

Die strategie was ook om die OB voor te hou as die brose en onskuldige slagoffer van ʼn sameswering. In die proses is miljoene der miljoene rande van die belastingbetalers se geld vermors – juis die mense wat sy veronderstel was om te beskerm.

Geen gewone landsburger het die voorreg om sy onbevoegdheid op hierdie wyse met belastinggeld te probeer regverdig nie.

Om sout in die publiek se wonde te vryf, het Mpofu in 2022, toe hy reeds R13.1 miljoen ontvang het, daarna as blote kleingeld verwys – “peanuts”. Dit terwyl sowat 60% van die land se jeug werkloos en honger is.

Die Grondwet maak dit duidelik dat die OB slegs verwyder kan word in die geval van wangedrag, ongeskiktheid of onbevoegdheid. Van wangedrag en onbevoegdheid het die komitee vele voorbeelde uitgewys.

Die Grondwethof het toe ook reeds oor die Reserwebank-aangeleentheid bevind dat Mkhwebane se ondersoek hierna gebrekkig was en nie die standaard wat van die OB se kantoor verwag word nie.

Die verskoning dat sy vervang moet word omdat sy besluite teen die regering geneem het hou ook nie steek nie. Die vorige OB het dit ook gedoen, maar sy was bevoeg en is daarom nie verwyder nie.

Daar is geen keuse as om van Mkhwebane ontslae te raak nie. Die geloofwaardigheid van die OB se kantoor moet weer herstel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.