Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Minister McKenzie se verskonings oor Swem SA en Tatjana Smith is ’n flou poging om pligte te ontduik

Minister Gayton McKenzie se pogings om sy hande in onskuld te was oor die voortslepende krisis by Swem Suid-Afrika (SSA) nadat die land se mees bekroonde Olimpiese swemmer, Tatjana Smith, aangekondig het sy gaan voortaan vir Nederland swem, is ’n flou poging om sy verantwoordelikhede te ontduik.

Min. McKenzie het vandag hoofsaaklik aangevoer dit is nie sy skuld dat atlete sukkel nie en dat hy as minister nie kan inmeng in die sake van sportfederasies nie.

Die VF Plus het in antwoord hierop ’n brief aan die minister geskryf wat daarop wys dat hy regtens by magte is – en selfs verplig word – om in te gryp wanneer sportliggame wanfunksioneer, wanneer openbare fondse misbruik word en wanneer nasionale sportsoorte in oneer gebring word tot nadeel van atlete. (Volledige brief onderaan verklaring)

Die VF Plus raai die minister in die skrywe aan om ’n regsmening oor die aangeleentheid in te win sodat hy op dié wyse verplig word om op te tree. Die party gaan ook skriftelike parlementêre vrae by die minister se kantoor indien oor die dispuut ingevolge art. 13 van die Nasionale Sport- en Ontspanningswet waarna die VF Plus-skrywe verwys.

Die Nasionale Sport- en Ontspanningswet en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (WOFB) bied duidelike meganismes en voorskrifte vir ministeriële ingryping, die onttrekking van erkenning aan sportliggame en/of die weerhouding van befondsing wanneer dié organisasies gebrekkig vaar en atlete in die steek laat.

Die VF Plus neem kennis van die sensitiewe balans wat gehandhaaf moet word weens internasionale sportliggame soos World Aquatics en die Internasionale Olimpiese Komitee se streng reëls teen regeringsinmenging in nasionale federasies.

Dit is nogtans belangrik dat die minister sy statutêre magte kragtens die WOFB en artikel 10 gebruik om finansiële aanspreeklikheid af te dwing en saam met World Aquatics se bestaande ondersoekspan te werk.

Hier volg die volledige brief wat vandag aan die minister gerig is:

Onderwerp: Dringende ingryping benodig: Bestuurs- en aanspreeklikheidsmislukkings by Swem Suid-Afrika (SSA)

Ek skryf aan u met die grootste besorgdheid oor die toestand van Swem Suid-Afrika (SSA) en die omstandighede rondom Tatjana Smith se besluit om voortaan onder die vlag van Nederland te swem, in stede daarvan om Suid-Afrika in toekomstige byeenkomste te verteenwoordig.

Dit is veral ontstellend dat een van Suid-Afrika se mees bekroonde atlete voel dat sy geen toekoms het in die land wat sy met soveel lof verteenwoordig het nie. Berigte oor onbetaalde prysgeld, atlete wat verwag word om hul eie deelname aan internasionale kompetisies te befonds, en ernstige bestuurskwessies binne SSA wek belangrike vrae oor die federasie se bestuur en aanspreeklikheid.

Terwyl ek erken dat nasionale sportfederasies ’n mate van onafhanklikheid geniet, kan dit nie beteken dat hulle bo verantwoording verhewe is nie, veral wanneer hulle staatsfinansiering ontvang. Sulke finansiering kom uit openbare bronne en moet aan behoorlike toesig en aanspreeklikheid onderworpe wees. Die departement het die verantwoordelikheid om te verseker dat fondse wat aan federasies toegeken word, aangewend word vir hul beoogde doeleindes en in ooreenstemming met die voorwaardes daaraan verbonde. In die geval van SSA blyk dit duidelik dat finansiering nie by die atlete uitkom nie.

Die Wet op Nasionale Sport en Ontspanning 110 van 1998, soos gewysig deur die Wysigingswet op Nasionale Sport en Ontspanning 18 van 2007, maak voorsiening vir ministeriële ingryping in sekere omstandighede. Ingevolge artikel 13 kan die minister ingryp in ’n geskil, beweerde wanbestuur, of verwante aangeleenthede wat waarskynlik ’n sport in onguns sal bring. Dit kan insluit om die saak na bemiddeling te verwys of ’n aanwysing uit te reik. Indien ’n federasie versuim om te voldoen aan die bemiddelaar se beslissing of die minister se aanwysing, maak die wet voorsiening dat finansiering teruggehou word en die federasie se erkenning ingetrek word, onderhewig aan die voorgeskrewe prosedures.

Artikel 10 handel ook oor die finansiering van sport en ontspanning en vereis aanvaarbare administratiewe standaarde van ontvangers van staatsfinansiering, en maak voorsiening vir finansieringsbeperkings waar federasies staatsfinansiering misbruik of versuim om aan sekere ontwikkelingsvereistes te voldoen.

Verder plaas die Wet op Openbare Finansiële Bestuur 1 van 1999 verpligtinge op departementele rekenpligtige beamptes om te verseker dat openbare fondse wat aan ander entiteite oorgedra word, onderworpe is aan gepaste finansiële bestuursvereistes en -voorwaardes. Dit vereis ook nakoming van daardie voorwaardes en maak voorsiening vir toesig oor hoe sodanige fondse aangewend word. Die tesourieregulasies maak verder voorsiening vir die monitering van oordragte en subsidies, insluitend verslaggewing, oudits en prestasiebeoordelings, en laat toe dat finansiering teruggehou word in sekere omstandighede waar voorwaardes nie nagekom word nie of ooreengekome doelwitte nie bereik word nie.

Artikel 14 van die Wet op Nasionale Sport en Ontspanning magtig die minister ook om regulasies uit te vaardig oor aangeleenthede insluitend die finansiering en erkenning van sportliggame. Dit sluit hoëprestasiesport in, wat veral van toepassing is op swem as ’n Olimpiese sport.

Ek wil ook vasstel of die departement enige formele skriftelike kennisgewings van Swem Suid-Afrika of die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASCOC) ontvang het met betrekking tot geskille binne die federasie wat verband hou met Tatjana Smith, soos bepaal in artikel 13 van die Wet. Indien sulke kennisgewings ontvang is, sal ek enige inligting wat u kan verskaf oor watter stappe in reaksie daarop geneem is, waardeer.

In die lig van hierdie bepalings doen ek ’n dringende beroep op u om dringend regsadvies in te win oor die volle omvang van u bevoegdhede en verantwoordelikhede en alle beskikbare roetes om die situasie by SSA aan te spreek. Ek sal dit verder waardeer indien u departement die omvang van staatsfinansiering wat aan SSA toegeken is, kan vasstel, die voorwaardes verbonde aan daardie finansiering kan hersien, en kan bepaal of die federasie aan sy verpligtinge voldoen het. Die departement behoort ook te oorweeg of formele ingryping kragtens artikel 13 geregverdig is, in ooreenstemming met die vereistes uiteengesit in die wet.

Dit is belangrik dat die persone in die bestuur van SSA, wat verantwoordelik is vir die skandelike skending van ons top-swematlete se regte en welsyn tot die punt waar hulle nie meer behoorlik onder ons trotse nasionale vlag kan meeding nie, tot verantwoording geroep word en daar dienooreenkomstig met hulle gehandel word.

Deur beslissende optrede in hierdie saak te toon, sal u u verbintenis bewys om Suid-Afrikaanse atlete te beskerm en sportfederasies tot verantwoording te roep. As die beskermer van Suid-Afrika se sport, kuns en kultuur deur die departement onder u leiding, het u die geleentheid om aan die publiek te wys dat sulke mislukkings nie op u wagbeurt geduld sal word nie.

Om toe te laat dat die situasie voortduur, sal openbare vertroue in u leiding ondermyn. Dit is dus van kardinale belang dat u optree om openbare vertroue te versterk en te wys dat die belange van atlete eerste kom. Suid-Afrika behoort nie sy topatlete te verloor weens mislukkings binne die strukture self wat veronderstel is om hulle te ondersteun nie.

Ek sal u dringende aandag aan hierdie saak waardeer en sal dankbaar wees indien u kan laat weet watter stappe u van plan is om in reaksie hierop te neem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.