Die jaarlikse voorwaardes vir permitte om voedsel kragtens die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se Marrakesh-ooreenkoms van 1994 in te voer, stel weereens voldoening aan Swart Ekonomiese Bemagtiging volgens die “Agri BEE”-sektorkode as voorwaarde.
Die direkteur-generaal van landbou, mnr. Mooketsa Ramasodi, het die voorwaardes gister in die Staatskoerant gepubliseer.
Die ongelooflike ironie hiervan is dat die WHO juis gestig is om vrye handel te bemiddel. Dit het die destydse Algemene Ooreenkoms oor Tariewe en Handel (“GATT”) vervang, juis omdat GATT lande toegelaat het om slegs sekere aspekte van vrye handel toe te pas.
Luidens die Marrakesh-ooreenkoms, moet lande wat dit onderteken die volle pakket aanvaar.
Op die WHO se eie webwerf (https://www.wto.org/english/thewto_e/whatis_e/what_stand_for_e.htm) erken hy dat die regsdokumente waarvolgens die organisasie werk, besonder kompleks kan wees. Daarom word die belangrikste vereistes in gewone taal uiteengesit.
Die tweede doelwit wat die WHO noem, is (self vertaal) “Nie-diskriminasie”. Dit word omskryf soos volg: “‘n Land behoort nie tussen sy handelsvennote te diskrimineer nie en dit behoort nie te diskrimineer tussen eie en vreemde produkte, dienste en burgers nie.” (“A country should not discriminate between its trading partners, and it should not discriminate between its own and foreign products, services or nationals.”)
Hoewel die woord “behoort” of “should” nie ‘n verpligting plaas nie, dui dit tog ‘n mikpunt aan. Suid-Afrika diskrimineer egter openlik teen sy eie burgers op grond van ras. Dit laat weereens die lig op die onregverdigheid van wetgewing ter bevordering van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) val.
Die organisasie Sakeliga is tans juis in ‘n hofstryd daaroor gewikkel.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die minister van landbou, mnr. Willie Aucamp, om ‘n einde te bring aan wetgewing binne sy departement wat diskrimineer en beperkings plaas op mededinging wat voedselveiligheid kan bevoordeel.


