Die VF Plus het die Tshwane-metro gedurende ʼn raadsvergadering gewaarsku dat die metro se voorgestelde langtermyn verhuringsooreenkoms van 33 eiendomme in Sunnyside, Pretoria, met deursigtigheid en finansiële integriteit bestuur moet word.
Die metro het reeds in die verlede die eiendomme verhuur, maar in baie gevalle was huurgeld agterstallig, geen onderhoud aan geboue is gedoen nie en huurders het die eiendom sonder kennisgewing verlaat.
Die VF Plus in Tshwane wil benadruk dat munisipale eiendomme verantwoordelik, deursigtig en met finansiële integriteit bestuur moet word binne die raamwerk van die wet en beleid.
Die party dring daarop aan dat stadsbates behoorlik bestuur moet word omdat vorige mislukte ooreenkomste nie herhaal kan word nie.
Die verhuringsooreenkoms moet finansiële voordele vir die metro bied en plaaslike inwoners bevoordeel.
Die voorgestelde huurooreenkoms moet verseker dat die eiendom en infrastruktuur ná afloop van die huurtermyn aan die Tshwane-metroraad teruggegee word.
Die VF Plus sal die proses noukeurig monitor en beswaar aanteken indien daar tekens van wanadministrasie, korrupsie of benadeling van die gemeenskap is.
Die VF Plus staan vir verantwoordelike stadsbestuur en sinvolle aanwending van belastinggeld.


