Dit is onaanvaarbaar dat die Ekurhuleni-metro se nooddienste ontplooi word om watertenks by die Germiston-raadsaal te vul terwyl inwoners elders in die metro dae sonder water moet klaarkom.
Hierdie besluit is geneem om te verseker dat raadslede en amptenare nie vandag tydens ʼn raadsvergadering ʼn watertekort ervaar nie.
Intussen moet bejaardes van Tweedypark in Brakpan vir vyf agtereenvolgende dae sonder lopende water klaarkom. Dit beteken die senior burgers kan nie bad, maaltye voorberei of die toilet spoel nie.
Die VF Plus sou graag wou sien dat die metro ʼn helpende hand aan inwoners uitreik en ʼn watertenkwa na die gebied stuur om bejaardes te help.
Die party sal volgende week dringende vrae rig tydens ʼn vergadering van die gemeenskapsveiligheidskomitee om vas te stel wie die ontplooiing van brandweerwaens gemagtig het en watter alternatiewe planne daar is om inwoners van Tweedypark van water te voorsien.
Die VF Plus eis ʼn verslag, duidelike aanspreeklikheid en ʼn skriftelike plan om te verseker dat elke liter noodwater in die toekoms inwoners bereik alvorens raadslede hul eie glase vul.