Inwoners van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) gaan hul hande diep in die sakke moet steek nadat astronomiese tariefverhogings Dinsdag tydens ‘n spesiale raadsvergadering aangekondig is.
Die ANC/EFF-beheerde raad het water- en sanitasie-tariefverhogings van 15,3% vir die 2025-2026-finansiële jaar aangekondig terwyl elektrisiteitstariewe met ‘n geraamde gemiddeld van 11,3% gaan verhoog.
Die burgemeester van die ANC, Lucky Sele, het natuurlik aangevoer dat hierdie tariefverhogings buite die raad se beheer is, aangesien Eskom en Rand Water hul pryse ook verhoog het.
Dit is egter ‘n feit dat staatsbeheerde entiteite sedert die jare van staatskaping finansieel swaar trek en dit blyk nou dat gewone verbruikers geskud gaan word om die finansiële gate toe te stop.
Aangesien elektrisiteitstariewe in Mogale City deesdae deur ‘n stygende bloktarief-struktuur bepaal word, is dit byna onmoontlik om ‘n presiese verhoging te bepaal.
Die grootste tariefverhoging – van 20,48% – word ingestel op Blok 4 vir groot huishoudelike verbruikers. Dit is huishoudings wat multifase krag ontvang en wat meer as 1400 eenhede per maand gebruik.
Kommersiële verbruikers en nywerhede sal deur die bank meer as 11% opdok.
Hierdie verhogings is duidelik ingestel om die meer welvarende inwoners te melk vir elke sent moontlik.
Die kommersiële en nywerheidstariewe sal beslis ook ‘n negatiewe impak hê op werkskepping, wat die gaping tussen die rykes en die armes nog verder sal vergroot.
Die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) moet nog Mogale City se aansoek vir die krag-tariefverhogings goedkeur.


