(Parlementsdebat: Vaardighede in die wêreld van die Vierde Industriële Revolusie: Bemagtiging van die jeug vir veranderende ekonomiese deelname)
Dit is ironies dat in Suid-Afrika gepraat word van bemagtiging van die jeug vir die Vierde Industriële Revolusie terwyl leerlinge steeds sukkel met basiese lees-, skryf en begripsvaardighede.
Benewens akademiese vaardighede beleef Suid-Afrika se jeug ook ‘n maatskaplike krisis waar hulle ‘n tekort het aan basiese lewensmiddele. Die krisis waarmee die begunstigdes van die departement van maatskaplike ontwikkeling te kampe het, veral in Gauteng, dien as voorbeeld hiervan.
Kinderhuise, geriewe vir slagoffers van huishoudelike geweld, en ander, wag al maande op toelaes wat hul kinders hopeloos en behoeftig laat. Tog gee die regering voor – van die president tot die betrokke minister – asof hulle ernstig is oor geslagsgegronde geweld en jeugwerkloosheid.
Terwyl Kinderbeskermingsweek verlede week gevier is, het die pleidooie van kinderhuise in Gauteng dat hul toelaes uitbetaal moet word, op die dowe ore van die regering geval en hulle wag steeds.
Die regering faal die kinders van Suid-Afrika in alle opsigte.
Dit sou nogtans noodlottig wees om nie erns te hê met gereedmaking vir die Vierde Industriële Revolusie nie. Die jeug moet die vaardighede aanleer om die geleenthede en uitdagings wat daarmee gepaardgaan, te omhels.
Om dit te vermag sal ‘n verskeidenheid vaardighede aangeleer moet word. Die feit dat leerders in Suid-Afrika nog sukkel met basiese lees- en skryfvaardighede, wys hoe groot hierdie uitdaging is.
Die Vierde Industriële Revolusie beteken nie net tegnologiese vooruitgang nie. Tradisionele ambagte ontwikkel ook om nuwe vaardighede en tegnologieë in te sluit.
Ambagslui soos loodgieters en elektrisiëns, onder andere, speel ‘n deurslaggewende rol in hierdie opsig.
Maar ook hier word die jeug in die steek gelaat. Duisende jong ambagsvakleerlinge wag tans om hul vaktoetse te doen. Daarsonder kan hulle nie die arbeidsmark betree nie.
Die probleem lê nie by die leerders nie, maar dui op ‘n totale gebrek aan die politieke wil van die departement se kant om hierdie probleem op te los en die jeug van die land te bemagtig.
Tog kan enige krisis met die nodige politieke wil, sterk leierskap, sinvolle besluite, doelgerigte bestuur en strukturele verandering te bowe gekom word.
Hiervoor is daadwerklike verandering nodig. Die regering van nasionale eenheid (RNE) is die eerste stap in die regte rigting. Namate die verrotting uitgesny en vervang word, sal die res stelselmatig in plek val en die VF Plus sal deel wees van hierdie proses.


