Die VF Plus het vandag tydens debatte in die Noordwes wetgewer oor die hoë werkloosheidsyfer en waterkrisis wat inwoners van die provinsie moet trotseer, beklemtoon dat hierdie kwessies ‘n direkte gevolg van ‘n swak ANC-regering met uitgediende beleid is.
Noordwes is tans die provinsie met verreweg die hoogste werkloosheidsyfer in Suid-Afrika met 32,9% en ‘n uitgebreide syfer van 54%.
Werkloosheid onder die jeug staan op 59%. Dit is ‘n ramp.
Hierdie skokkende situasie volg op jarelange mislukte ANC-geleide beleide, wanbestuur en korrupsie op alle vlakke van regering in Noordwes.
Die verval en vernietiging van kritieke infrastruktuur onder ANC-bewind het onder meer gelei tot grootskaalse industriële disinvestering uit die provinsie. Bykans geen nuwe beleggers met gepaardgaande werksgeleenthede kan meer na Noordwes gelok word nie.
Van eens welvarende en vooruitstrewende industriële gebiede in stede en dorpe regoor die provinsie is daar vandag bloot vervalle ruïnes.
Korrupte en onbevoegde amptenare en ANC-kaders in munisipaliteite en die provinsiale regering het tienduisende werksgeleenthede oor tyd vernietig.
Hierdie situasie het nou daartoe gelei dat Noordwes grootliks moet staatmaak op die wisselvallige mynbousektore vir werkverskaffing aan inwoners. Duisende werksgeleenthede het in die eerste kwartaal vanjaar in hierdie sektor in die slag gebly weens afleggings wat toegeskryf word aan internasionale markfluktuering.
Die vervalle stand van landelike paaie bedreig nou ook die landbou – die ander ekonomiese steunpilaar vir volhoubare werksgeleenthede in Noordwes. Boere kan nie meer tydig hul produkte by markte uitkry nie en ly boonop enorme skade aan voertuie en toerusting weens die vervalle padinfrastruktuur.
ANC-wanbestuur en onbevoegdheid bedreig só voedselsekerheid.
Die VF Plus het verder beklemtoon dat die enorme verlies aan drinkwater weens vervalle waterinfrastruktuur, in sommige gevalle by dorpe so hoog as 50%, ‘n eksistensiële bedreiging vir inwoners inhou. Die grootskaalse besoedeling van waterbronne weens onbevoegde en korrupte ANC-beheerde munisipaliteite is ‘n ewe groot bedreiging vir Noordwes se inwoners.
Dit is duidelik dat die provinsie onder ANC-beheer ‘n krisis in die gesig staar.
Die VF Plus het beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat daar onmiddellik ‘n omvattende ekonomiese herstelplan geloods word. Voorts moet korrupte munisipale amptenare onmiddellik geskors en streng vervolg word. ‘n Behoorlike oudit van bestaande infrastruktuur moet ook dringend gedoen word in konsultasie met plaaslike gemeenskappe sodat herstelplanne met spesifieke tydlyne op ‘n deursigtige wyse uitgevoer word.
Laastens, en sekerlik die belangrikste, moet kaderontplooiing onmiddellik gestaak word en regeringsaanstellings suiwer op meriete gedoen word.
Aanstellings gegrond op ANC-politieke lojaliteite is ‘n euwel wat Noordwes nie langer kan verduur nie.


