Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga: Departement van maatskaplike ontwikkeling se beleid beroof kinders van toekoms

Die VF Plus spreek sy ernstige kommer uit oor die benarde toestand waarin kinderwelsynsorganisasies in Mpumalanga hulself bevind. Dit weens die departement van maatskaplike ontwikkeling se wanadministrasie, ontoereikende befondsing en uitermatige burokratiese vertragings.

Twee nie-winsgewende kinderwelsynsorganisasies (NPO’s) het onlangs hul bekommernisse in ‘n formele skrywe aan die VF Plus gerig, waarin hul die impak van die departement se beleide op aannemingsprosesse en die versorging van kwesbare kinders uitlig.

Die kernprobleme wat aangemeld is sluit in:

• Die departement se weiering om advertensies te befonds om verlore ouers of familielede op te spoor, op grond van beweerde koste van R900 000 per bladsy.
• Aannemings wat jare lank sloer weens vertraagde en onvoldoende plasingspanele wat verantwoordelik is vir pleegsorg en aannemings, onvolledige notules en nuwe hindernisse wat voortdurend opduik.
• Slegs een kanaliseringsbeampte per distrik, wat ‘n groot agterstand in dokumentverwerking veroorsaak.
• Organisasies wat nie hul kwartaallikse fondse ontvang nie, wat salarisse, operasionele kapasiteit en selfs die voortbestaan van kinderhuise in gedrang bring.
• Maatskaplike werkers wat tot 150 sake op een slag hanteer – meer as dubbeld die voorgeskrewe maksimum.
• Vertraagde nakomingsverslae wat ander fondse soos die steun van die Nasionale Lotery in gevaar stel.
• Laat uitreiking van Artikel 169-vorms wat kinders toelaat om internasionaal te reis.
• Geen toegang tot opgedateerde hardekopieë van die Kinderwet nie, terwyl dit gereeld gewysig word.

Hierdie situasie is nie bloot ‘n administratiewe fout nie, dit is ‘n menseregteskending. Wanneer die stelsel faal, is dit die kinders wat die hoogste prys betaal.

Die party eis nou in ‘n skrywe aan die LUR van die departement, me. Lindiwe Ntshalintshali dat die werklike koste van advertensies hersien en kostedoeltreffende opsies ondersoek word. Die aanstelling van kanaliseringsbeamptes moet ook dringend bespoedig word. Nakomings- en befondsingsprosesse moet hersien word sodat organisasies hul kritiese werk sonder struikelblokke kan voortsit.

Die VF Plus sal voortgaan om hierdie saak op provinsiale vlak te beveg totdat geregtigheid geskied.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.