Die VF Plus het ʼn Paia-aansoek ingedien by die Tshwane-metro om toegang te verkry tot dokumente om die regverdigheid en wettigheid van die metro se eiendomswaardasierol vir 2025-2029 te bepaal.
Deursigtigheid en verantwoording is noodsaaklik om te verseker dat die waardasieproses regmatig, billik en toeganklik was vir die publiek.
In die Paia-aansoek word die volgende versoek:
• Aanstellingsproses van die munisipale waardeerder – Openbare verifikasie van aanstellingsbriewe, onafhanklikheidsverklarings en beroepsregistrasie.
• Tender- en kontrakteringsproses: Insig in die evaluasie- en toekenningsproses om regmatigheid te verseker.
• Affiliasies en belangebotsings: Ondersoek na moontlike verhoudings tussen kontrakteurs en waardeerders.
• Waardasiemetodologie: Openbaarmaking van alle metodes, data en bronne wat gebruik is.
• Openbare deelname en kommunikasie: Bewyse dat gemeenskapsbetrokkenheid korrek gedoen is.
• Besware en appèlproses: Toegang tot alle prosedures en regulasies rakende besware en herevaluering.
• Verskille in eiendomswaardasies: Statistiese ontleding van waardasie-verskille per gebied.
• Markneigings en data-verwantskappe: Verslae oor markwaardes, prystendense en ekonomiese faktore.
• Verkrygingsbeleid en munisipale voorsieningskettingbestuur-regulasies: Dokumentasie oor tender- en gedeelde verkrygingspraktyke.
• Regs- en beleidsraamwerk: Openbare toegang tot relevante beleide ingevolge wetgewing soos van toepassing op eiendomsbelasting.
Die Tshwane-metro moet dringend aan die party se versoek voldoen en die verlangde dokumentasie voorsien.
Die VF Plus sal verdere optrede oorweeg sodra die inligting ontvang is. Indien die munisipaliteit versuim om binne die wettige tydraamwerk van 30 dae te reageer, sal regstappe en ander wettige remedies oorweeg word om die regte van Tshwane-inwoners te beskerm.
Die inwoners van Tshwane verdien eerlike en deursigtige plaaslike regering. Die VF Plus sal voortgaan om harde vrae te vra en optrede te neem indien onregverdigheid of regsvergrype bevestig word.


