Die burgemeester van die Tshwane-metro, dr. Nasiphi Moya, se onlangse bewering dat daar slegs vyf slaggate in die metro is wat nog herstel moet word, weerspieël haar onkunde of is ‘n doelbewuste poging tot misleiding oor die situasie.
Die VF Plus het vandeesweek ʼn roete van 4,5km gery deur die strate Jakaranda, Galway, Blackwood en Jim van der Merwe in Centurion en 32 slaggate getel.
Die party word oorval met klagtes van woedende inwoners oor die toestand van paaie wat voertuie beskadig en ongelukke veroorsaak.
Die metro verkwalik swaar reën en ‘n agterstand in herstelwerk, maar daar was weke sonder reën waar geen vordering gemaak is met herstelwerk nie.
Die VF Plus stel voor dat die burgemeester vir ʼn oomblik haar ampsmotor self bestuur om te sien waarmee inwoners daagliks gekonfronteer word.
Die party eis dat die departement van paaie ʼn deursigtige, onafhanklike opname van die metro se paaie doen, duidelik vir die burgemeester uitspel wat ‘n slaggat is en ʼn geloofwaardige plan met tydlyne deel om die krisis aan te pak.
Intussen moedig die VF Plus inwoners aan om ʼn eis teen die metro in te dien vir skade of verliese gely aan hul voertuie weens die metro se nalatigheid en versuim hieroor.
Die veiligheid van motoriste op die metro se paaie is ononderhandelbaar en die metro sal sy sokkies moet optrek.


