Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mogale City-burgemeesterskomiteelid saai verdeeldheid op Hekpoort

Die burgemeesterskomitee vir menslike nedersettings in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit, Merriam Mogoje, het Maandagaand groot verdeeldheid in die Hekpoort- en Hartebeesfontein-landelike gemeenskap in Gauteng veroorsaak deurdat sy wit grondeienaars daarvan beskuldig het dat hulle swart mense van hul grond verdryf.

Sy het inwoners van informele nedersettings aangemoedig om eiendom in die omgewing wat aan Mogale City behoort, te beset. Die burgemeester van Mogale City, Lucky Sele, het Mogoje ondersteun en bygevoeg dat die munisipaliteit die besette eiendom sal formaliseer en dienste verskaf.

Hierdie uitsprake kom te midde van ʼn plofbare politieke klimaat en in ʼn omgewing waar misdaad hoogty vier.

Mogale City is die afgelope tyd in die spervuur omdat hy op groot skaal behuisingsprojekte aanpak soos Brickvale op Tarlton en dr. Sefularo Village wat sonder funksionerende rioolverwerkingsaanlegte en die vereiste omgewingsimpakstudies gebou is en bewoon word.

Dit terwyl rou riool in dolomietgrond gestort word en geen vullisverwyseringstelsel of rioolverwerkingsstelsel in bestaande nedersettings in Hekpoort bestaan nie.

Die munisipaliteit is ook verantwoordelik vir die grootskaalse besoedeling van die Blougatspruit, Krokodilrivier en Hartebeespoortdam vanweë die wanfunksionering van die Percy Stewart-rioolwerke in Krugersdorp.

Die grondeienaars van Hekpoort en Hartebeesfontein is reeds in ‘n hofgeding met Mogale City gewikkel ingevolge die nie-voldoening aan Spluma-wetgewing oor die Dr Sefularo Village-ontwikkeling wat meer as 2000 mense gaan huisves en waarvan die oorvloei van die onvoldoende rioolverwerkingsaanleg slegs 10 meter bo die Magaliesrivier uitmond.

Die Mogale City-burgemeester en aangewese amptenare vir omgewingsake verskyn binnekort weer voor die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake oor die nalatige besoedeling van skaars waterbronne in Gauteng. Die VF Plus het die voorsitterskap van dié portefeuljekomitee.

Mogale City ontwrig die landelike gebiede van Wes-Gauteng deur huisvesting aan duisende mense te beloof in ‘n landbou-gesoneerde gebied wat ook ‘n erkende Unesco Wêrelderfenis-gebied is en waar werksgeleenthede beperk is.

Die VF Plus gaan ook klagtes by die Mogale City-raad se etiekkomitee in dien teen die burgemeester en die betrokke burgemeesterskomiteelid.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.