Die burgemeester van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom), David Khalipha, vertel nie die volle waarheid rondom die jongste waterkrisis wat dié munisipaliteit in die gesig staar nie.
Luidens ʼn verklaring van Khalipha, wat die afgelope naweek uitgereik is, word inwoners versoek om hul waterrekeninge te vereffen aangesien die Vaalsentraal-waterraad beplan om die water na die munisipaliteit af te sny weens wanbetaling.
Vaalsentraal eis dat ʼn bedrag van R60 miljoen teen Woensdag, 14 Mei, betaal word.
Wat Khalipha gerieflikheidshalwe nie noem nie, is dat Matjhabeng tot 40% van sy aangekoopte water verloor weens ʼn gebrek aan instandhouding wat al dekades duur.
Die munisipaliteit se armlastige register is in ‘n haglike toestand is en dit is onseker hoeveel van die inwoners nog vir gratis dienste kwalifiseer en of hulle nie nou behoort te betaal nie.
Uit raadsdokumente blyk dat ook dat veral ANC-wyke se invorderingskoers baie laag is.
Die VF Plus is verder oortuig daarvan dat die munisipaliteit nie sy betalingsooreenkoms van R12 miljoen per maand nakom nie en vandaar Vaalwater se dreigement om waterverskaffing te sny.
Dit is net billik dat almal wat dienste ontvang, daarvoor moet betaal en nie net ʼn handjievol getroue belastingbetalers nie.
Die inwoners is nie die oorsaak van Matjabeng se waterprobleme nie. Dit kan net voor die deur van die ANC gelê word.