Die VF Plus in die Tshwane-metroraad dring daarop aan dat die beslissing van die die Suid-Afrikaanse Plaaslike Bedingingsraad (SALBC) om vyf amptenare wat verbind word met tenderbedrog in hul ampte te herstel, hersien word.
Die vorige regering van die metro, waarvan die VF Plus deel was, het die vyf ampteanare geskors. Dié besluit is geneem op grond van ʼn volledige onafhanklike ondersoek wat aanbeveel het dat daar dissiplinêr teen die amptenare opgetree moet word.
Die forensiese ondersoek het bevind dat die amptenare hulself skuldig gemaak het aan verskeie oortredings met die toekenning van ʼn tender vir die opgradering van die Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg aan Edwin Sodi – ʼn bekende donateur en meeloper van die ANC.
Die VF Plus bevraagteken die beslissing van die bedingingsraad dat die amptenare onreёlmatig geskors is.
Die VF Plus is van mening dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se aanbeveling dat hulle strafregtelik vervolg word, gehandhaaf word. Dit bevestig die bevindinge van die forensiese verslag.
Die party het reeds die stadsbestuurder, mnr. Johann Metler, versoek om die bedingingsraad se besluit op hersiening te neem.
Die saak teen die amptenare moet ook eers in die arbeidshof getoets word voordat die bedingingsraad se besluit gehandhaaf kan word.
Die bewerings van tenderbedrog is baie ernstig en die herinstelling van die amptenare kan lei tot inmenging by getuienis.
Dit stuur ook ʼn boodskap aan ander oortreders dat hulle straffeloos kan voortgaan met onwettige praktyke.