Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op alle inwoners van Kaapstad om deel te neem aan die openbare deelnameproses oor die Stad Kaapstad se nuwe konsepverordening op die aanhou van diere.
Hierdie voorgestelde wetgewing gaan ‘n regstreekse uitwerking op diere-eienaars en die breër gemeenskap hê en beoog om groter magte aan wetstoepassers te verleen.
Die konsepverordening op die aanhou van diere is ‘n omvattende hersiening van die munisipaliteit se bestaande dierewetgewing.
Dit stel strenger verpligtinge op eienaars en konsolideer ook bepalings wat voorheen onder die openbare oorlaste geval het — soos aanhoudende blafgeraas en reukbesoedeling.
Private eienaars, diereversorgers, telers, dierewinkels, troeteldiersalonne en selfs dagversorgingsentrums vir diere word deur die voorskrifte geraak. Die konsepverordening behels onder meer streng beperkings op die getal diere wat op ‘n erf aangehou mag word, asook verpligte mikroskyfies vir diere.
Honde moet in alle openbare ruimtes aan ‘n leiband wees, behalwe in duidelik gemerkte vryhardloopsones. ‘n Verbod word ook voorsien op die aanlynverkoop van diere sonder ‘n geldige telerspermit.
‘n Verkorting van die tyd wat verlore diere in skutte gehou mag word voor herplasing word beoog, asook ‘n geformaliseerde proses wat dit vir wetstoepassers vergemaklik om ‘n perseel met ‘n lasbrief te betree en op diere beslag te lê.
Die VF Plus glo dat dierewelstand en openbare orde hand aan hand gaan, maar waarsku teen oormatige regulering wat wetsgehoorsame inwoners onnodig belas sonder om munisipale toepassingsvermoë te verbeter.
Burgerlike deelname is noodsaaklik om te verseker dat die finale verordening ‘n regverdige balans tref tussen gemeenskapsbelange, dierebeskerming en die regte van diere-eienaars.
Die amptelike sperdatum vir openbare insette is 29 September 2026.
Inwoners kan hul kommentaar en besware skriftelik indien via die Stad Kaapstad se amptelike openbare deelname-portaal of per e-pos na Animal.bylaw@capetown.gov.za.
https://web1.capetown.gov.za/web1/newsandnotices/Home/Release/Comment-on-the-City-s-draft-Animal-Keeping-By-law?category=Issues%20open%20for%20public%20comment


