Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Swak dienslewering in Tshwane moet aangespreek word

Ten spyte van die koalisieregering van die Tshwane-metro se propaganda oor hoe hard hulle werk aan skoonmaak-aksies en om diensleweringsprobleme op te los, skets die werklikheid op grondvlak ʼn ander prentjie.

Groot dele van die metro is snags in die donker gehul weens stukkende straatligte, motoriste moet onrybare paaie trotseer en word begroet met vullis wat oral ophoop.

In Montana, Sinoville en Doornpoort is daar paaie wat meer slaggat as pad is. Derdeweg in Montana, wat die buurt se verbindingsroete is, is meer grond as teer en besaai met slaggate.

In Mamelodi by groot kruispunte soos die aansluiting van Stormvoëlweg en Waltlooweg oorkant die Denlyn-winkelsentrum, flikker verkeersligte al vir maande rooi.

Vullis wat op die straathoeke ophoop en ongesnyde gras, belemmer motoriste se uitsig en verkeer staan vir kilometers om oor die kruising te kom.

In groot gebiede van die Moot werk straatligte glad nie en neem misdaad van onder meer kabels, motors en watermeters hand oor hand toe.

Die VF Plus het daarom die ActionSA/ANC/EFF-geleide koalisieregering uitgedaag om werklik daad by die woord te voeg om te bewys dat daar ʼn verbetering in dienslewering aan alle gemeenskappe in die metro is.

Die VF Plus simpatiseer met inwoners wat getrou vir dienste betaal, maar aan die agterspeen moet suig wanneer dit by dienslewering kom.

Die party sal aanhou om inwoners se belange eerste te stel en te veg vir hul reg op gelyke dienslewering.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.