Die veelparty-koalisie in die Ekurhuleni-metroraad is vandag tydens ‘n raadsitting herstel nadat die DA se burgemeesterskandidaat, Tania Campbell, suksesvol in haar amp herstel is met 124 stemme teenoor 99. Daar was een bedorwe stem.
Die VF Plus, wat die DA-burgemeesterskandidaat gesteun het, vervul ‘n noodsaaklike rol om soos in die Tshwane-metroraad, Mogale City-plaaslike munisipaliteit en die Westrand-distriksmunisipaliteit, stabiliteit te bring.
Die doel is om eindelik in 2024 op soortgelyk wyse as deel van ‘n veelparty-koalisie die ANC-regering in Gauteng te onttroon.
Die VF Plus sal intussen deur sy onderhandelingspan en teenwoordigheid alles in die stryd werp om ook die veelparty-koalisie in die Johannesburgse metroraad te herstel en te stabiliseer.
Daar rus ‘n reuse verantwoordelikheid op elke politieke party wat deel van die koalisie vorm om nou in belang van die publiek en belastingbetalers die verwoestende nalatenskap van die ANC in Ekurhuleni te herstel.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die kieserspubliek om hul kieserstatus na te gaan om in 2024 so ook die Gauteng-provinsie oor te neem en ‘n beter toekoms vir almal te verseker.
Gauteng verdien beter as die ANC.