Die inwoners van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) is vir die soveelste keer die slagoffer van die ANC-beheerde raad se laksheid om sy kragskuld aan Eskom te vereffen.
Eskom het Emfuleni nou hof toe gesleep vir sy historiese skuld van R1,3 miljard,
Ingevolge ‘n hofbevel in Oktober vanjaar het die hooggeregshof Eskom gemagtig om die munisipaliteit se uitstaande skuld van R1,3 miljard in te vorder.
Dit sluit in die beslaglegging van bankrekeninge en roerende bates. Roerende bates behels gewoonlik voertuie wat gebruik word om belangrike dienste te lewer.
Met die beslaglegging op die munisipaliteit se bankrekeninge kan geen dienste betaal word, onderdele aangekoop word of salarisse betaal word nie.
Die VF Plus is van mening dat Eskom, die nasionale tesourie, die Gautengse en nasionale departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), jare gelede al moes ingegryp het.
Die munisipaliteit moes toé reeds gedwing gewees het om sy skuld aan die kragvoorsiener en Randwater te betaal.
Die munisipaliteit se totale uitstaande skuld aan Eskom beloop tans R5,3 miljard.
Eskom het reeds ‘n dagvaarding van R3,5 miljard aan die munisipaliteit gestuur. Die aansoek sal vroeg volgende jaar aangehoor word.
Dit sluit die R1,3 miljard uit wat die hooggeregshof Eskom in Oktober gemagtig het om in te vorder.
Die Gautengse departement van Cogta se intervensie het geen positiewe uitwerking gehad nie. Cogta moes strenger opgetree het.
Die inwoners van Emfuleni verdien beter as hierdie optrede wat die direkte gevolg is van ‘n onbevoegde ANC-regering.